Local NewsNewsUpdate

Jong vegter is terug by die huis na operasie

Justin Stehnken is gebore met 'n obstruksie in sy nierpyp. Hy was op 7 Januarie geopereer...

POLOKWANE – In November verlede jaar was Geraldine Stehnken en haar man, Johnny twee bekommerde ouers nadat hulle uitgevind het hul jongste seun, Justin, moet dringend ‘n nieroperasie ondergaan.

“Justin is na ‘n normale swangerskap gebore. Tydens my swangerskap het die dokter wel opgemerk sy linkernier funksioneer nie normal nie. Hy is gebore met ‘n obstruksie in sy nierpyp,” vertel Geraldine.

Die gesin moes dringend geld insamel vir ‘n operasie

Radio Jacaranda se Good Morning Angelsprogram, asook Touch of Class Music het elk R30 000 geskenk, terwyl ‘n anonieme bron R20 000 bewillig het.

Justin is op Donderdag, 7 Januarie, twee dae voor sy eerste verjaarsdag, by Mediclinic Limpopo geopereer.

‘”Ek kan nie beskryf hoe opgewonde ek is nie,” vertel Geraldine waar sy na die operasie vir die dokters sit en wag.

“Justin is nou in die intensiewesorgeenheid en die dokters het gesê hulle sal later weer by hom inloer,” vertel Geraldine na die operasie.

“Dit sou aanvanklik ‘n uurlange operasie wees, maar dit raak toe later twee ure. Ek was baie gespanne.”

Daar is slegs aan Justin se linkernier geopereer.

Teen die tyd van hierdie onderhoud moes Justin vir nog tussen drie en vyf dae intensiewesorg ondergaan, maar volgens sy ma sê die personeel hy is ‘n klein vegter en daarom mag dit dalk die geval wees dat hy vroeër eerder as later huis toe kan gaan.

Geraldine vertel dat beide die narkotiseer, dr. André Fouché, en die uroloog, dr. Jan Olwagen, baie mooi na Justin gekyk het tydens die voorsorg en operasie.

Olwagen vertel dat, aangesien daar ‘n kongenitale obstruksie in die nierpyp was, hulle dit deur middel van ‘n operasie moes omkeer.

“Justin het ongelukkig reeds te lank met die obstruksie geloop en dus is daar permanente skade aan die nier.

“Die nier het wel nog genoeg funksie en sal Justin se nier goed genoeg funksioneer.”

• Justin is Sondag uit die intensiewesorgeenheid ontslaan en kon Maandag reeds huis toe gaan, tot groot opgewondenheid van sy ouers.

“Ek is baie bly alles het goed afgeloop,” vertel Geraldine.

 

Maak harte oop vir die jong Justin

Related Articles

Back to top button