‘Balans die sleutel tot sukses,’ sê PHS top 3 leerder, Monique Wreyford

Met 'n 91,57% gemiddeld en agt onderskeidings, spog Monique met die tweede beste prestasie vir Hoërskool Pietersburg (PHS) met die 2015 matriekuitslae.

POLOKWANE – Die rigtingwysers op die pad na sukses ontwyk vele mense, maar Monique Wreyford glo een van dié rigtingwysers is om goeie balans in jou lewe te handhaaf.

Met haar 91,57% gemiddeld en agt onderskeidings, spog Monique met die tweede beste prestasie vir Hoërskool Pietersburg (PHS) met die 2015 matriekuitslae.

Monique het 89% vir Afrikaans, 87% vir Engels, 97% vir wiskunde, 86% vir lewenswetenskappe, 92% vir fisiese wetenskappe, 95% vir rekeningkunde, 95% vir lewensoriëntering, en 72% vir gevorderde wiskunde ontvang vir die 2015 gr. 12 eindeksamen.

Sy was verlede jaar ook hoofmeisie by PHS.

“Dit voel amazing om in die top drie te wees. Ek is baie trots, ten spyte van ‘n moeilike en besige jaar het ek steeds my mikpunte bereik.

“Dit is ‘n eer om een van PHS se top drie presteerders te wees.”

Een van die lewenslesse wat haar altyd sal bybly van PHS is dat jy slegs in kompetisie is met jouself.

“Ek het my hele skoolloopbaan gesukkel om te aanvaar dat ek nie altyd eerste kan wees in alles wat ek aanpak nie, ek stap nou uit na 12 jaar met die wete dat mens nie altyd kan wen nie.”

Haar raad aan leerders wat hierdie jaar gr. 12 aanpak is om gebalanseerd te lewe.

“Ek wens leerders kon verstaan hoe belangrik dit is om buite te kom en te oefen. Mens kom verder met ‘n gebalanseerde leefstyl as wat mens heeltyd voor jou boeke sit. Moenie moed opgee nie.

“Gr. 12 is ‘n moeilike jaar, mens moet aanhou werk en jy sal die vrugte daarvan pluk met jou eindjaar eksamen.

“Maar die belangrikste is lees jou Bybel en bid elke dag, die Here is die enigste een wat kan bepaal hoe jou vraestel gemerk word, jy het geen beheer daaroor nie,” sluit sy af.

 

Haar planne vir 2016 is om dadelik weg te spring met haar chemiese ingenieurswese studies by die Universiteit van Pretoria.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version