Hollywood wink vir Oud-Pietie Daan Jansen

‘n Veelsydige boorling van Polokwane het meer ervarings beleef en prestasies behaal as wat die meeste mense sou kon droom om in ‘n leeftyd te verwesenlik. Daan Jansen het in 2010 met groot drome en ‘n stewige swembeurs sy graadstudie aan die Missouri State University in Amerika in Digital Film Producing en General Business and …

‘n Veelsydige boorling van Polokwane het meer ervarings beleef en prestasies behaal as wat die meeste mense sou kon droom om in ‘n leeftyd te verwesenlik.
Daan Jansen het in 2010 met groot drome en ‘n stewige swembeurs sy graadstudie aan die Missouri State University in Amerika in Digital Film Producing en General Business and Screenwriting met gedrewendheid aangepak.
“Danksy my swemprestasies het deure oorsee vir my oopgegaan. Om ‘n paar jaar kompeterend in die wêreldarena in swem te bly, het my toegerus om my studies met ewe veel toewyding en vasbeslotenheid te hanteer.”
Jansen, ‘n oudleerder van PHS het nie net sy graad aan die einde van 2015 cum laude behaal nie, maar ook die geleentheid gekry om as assistent-produksieleier ‘n kosprogramreeks vir ‘n plaaslike TV-stasie te help vervaardig.
“Die mediadepartementshoof van die universiteit, Deb Larson het gevra of ek belangstel om saam met haar aan so reeks te werk en my meestersgraadstudies, wat fokus op die skryf en vervaardiging van draaiboeke, terselfdertyd te voltooi,” sê Jansen.
Die eerste reeks van ‘Show-Me Chefs’ is verlede jaar vervaardig en uitgesaai en die tweede reeks van sewe episodes met Doug Pitt, Brad Pitt se broer as een van die finan­sierders word in Maart verfilm en van Augustus tot Oktober uitgesaai. Jansen is dié keer by al die prosesse van die beplanning, begroting, skryf van die teks tot die eindproduk betrokke.
Die reeks bestaan kortliks uit plaaslike restaurantsjefs van Missouri wat ‘n mandjie geheime bestanddele kry waarmee hulle voor-, hoof- en nagereg met slegs plaaslike organiese bestanddele moet voorberei. Die beoordelaars kies na elke ronde ‘n wenner wat na die semifinaal en die uiteindelike finaal deurdring.
Of sy lewe nie opwindend genoeg is nie, het hy ook al as produksie-assistentintern tydens die vervaardiging van twee Amerikaanse films, ‘Experimenter’ en ‘Youth in Oregon’ gewerk waartydens hy bekende akteurs soos Wynona Ryder en Christina Applegate se handlanger was.
Jansen tree vanjaar ook as oriënteringsmentor vir 100 eerstejaarstudente op om hulle te help om by die universiteit se aka­demiese eise aan te pas, stres te hanteer, keuses te maak en by die universiteitslewe betrokke te wees.
Sy toekomsdrome is om moontlik aan die einde van 2016 na Los Angeles te verhuis nadat hy sy meestersgraad voltooi het en by nasionale en internasionale realiteitstelevisiereekse oor leefstyl-, reis-, avontuur- en kos betrokke te wees.
Hy beskik beslis oor die uithouvermoë, stamina en energie om al sy drome te verwerklik soos wat tereg van ‘n voormalige swemkampioen wat Suid-Afrikaanse rekords verbeter het, verwag word.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Photo: Daan Jansen, ‘n nagraadse student aan die Missouri State University is besig om naam as produksie-assistent in ‘n plaaslike TV-realiteitreeks te maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version