Editor's noteLocal NewsNews

Isabella, hul prinses en wonderwerk

PIENKVOETJIES: Isabella is vir Bianca en haar man, Jacques, 'n wonderwerk, want nie net het hulle lank gewag vir haar nie, maar sy het ook 'n moeilike swangerskap gehad.

POLOKWANE – Bianca de Vries sit gemaklik in haar sitkamer terwyl Isabella (een maand) op haar bors lê en rustig slaap, glad nie gepla deur die onweer nie.

Bianca vertel Isabella is vir haar en haar man, Jacques, ‘n wonderwerk, want nie net het hulle lank gewag vir haar nie, maar sy het ook ‘n moeilike swangerskap gehad.

“Ek onthou ek was vreeslik emosioneel en toe ry my werkgewer en gaan koop vir my ‘n swangerskaptoets. Sy was dus eerste wat geweet het, maar vir Jacques het ek ‘n verrassing gereël,” vertel sy met ‘n glimlag,

“Ek het gereël dat ons by die Spur gaan eet. Daar het ek vir hom ‘n ballon met ‘n beertjie op en ‘n sakkie met ‘n sigaar, biltong en sjokolade in, gereed gehad. Toe ek vir die kelner die teken gee, het hulle die ballon en sakkie gebring saam met vonkelwyn en vir hom gesing. Dit was baie oulik.”

Sy vertel dat sy redelik gesond geëet het gedurende haar swangerskap, maar dat sy dikwels lus was vir sjokolade, aartappelskyfies en Coca-Cola. Sy het ook baie groente geëet.

“Elke dag van my swangerskap was vir my moeilik. Ek moes feitlik die heeltyd op bedrus wees en was gedurig siek met infeksies en griep. Ek was ook twee keer in die hospitaal met ‘n dreigende miskraam.”

Die eerste ding wat hulle vir die baba gekoop het was ‘n motorstoeltjie.

Hulle het ook albei saam op Isabella se naam besluit.

Bianca vertel sy was gedurende haar swangerskap baie bang en onseker en het gereeld angsaanvalle gehad, Jacques het egter al die buie en ook hoofpyne gehad.

“Ons het ‘n beplande keiser gehad. Isabella sukkel om te borsvoed so ek gebruik ‘n borsmelkpomp. Toe ek haar die eerste keer gesien het, het ek gehuil en gewonder of sy regtig ons s’n is. My eerste uitdaging na die geboorte was om gemaklik te raak. Ek het gereeld vir my ma gevra hoe ek iets moet doen.”

Bianca vertel dat om ‘n ma te wees is onbeskryflik.

“Ek dink nie daar is woorde nie. Dis effens oorweldigend. Haar naam beteken ‘God het haar geleen’. Ek wens haar alle vreugde vir haar toekoms, ek wil nie hê sy moet dieselfde pad stap as wat ek gestap het nie. Sy het ons hele familie nader aanmekaar gebring.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button