Bak smullekker vrugtekoek vir Kersfees

Review het met Doreen Grobler van Levubu gesêls om haar geheime uit te vind oor hoe om ‘n heerlike vrugtekoek te bak.

LEVUBU – Tydens die Kersseisoen is ‘n lekker vars vrugtekoek dikwels ‘n treffer.

Review het met Doreen Grobler van Levubu gesêls om haar geheime uit te vind oor hoe om ‘n heerlike vrugtekoek te bak.

Doreen het op hoërskool reeds begin bak, ietsie van alles – klein koekies, terte en groot koeke. “My ma was my inspirasie, sy het altyd troukoeke gebak. Ek het daarmee groot geword en van kleins af het ek al saam my ma en sussies gebak,” verduidelik Doreen haar groot liefde vir bak.

Doreen het ook die groot geheim van vrugtekoek met ons gedeel. “Hy moet lekker klam wees, genoeg brandewyn gevoer word. Laat liewer neuter uit die koek, dit droog die koek vreeslik uit. En moet glad nie suinig wees met kersies nie, dit maak die koek soveel meer. Waartlemoen konfyt of gemmer konfyt maak ook die koek baie lekker,” glimlag Doreen.

“’n Vrugtekoek kan ses maande, selfs langer, gebêre word sonder dat hy gevries word. En as jy die koek vries kan die koek vir langer as ‘n jaar gebêre word,” verklap Doreen.

Doreen was gaaf genoeg om haar resep met ons lesers te deel:
Beslag:
500 g (340 ml) glanskersies in 1/2 of 1/4 gesny.
25 ml brandewyn.
10 ml kakao.
10 ml kitskoffie poeier.
500 ml kookwater.
1 kg Safari droë vrugtekoek mengsel.
7 ml koeksoda.
300 g (375 ml) suiker.
135 ml margarien.
3 groot eiers.
3 k koekmeel.
7 ml bakpoeier.
1 ml sout.
5ml gemengde speserye.
5 ml gemmer.
25 ml brandewyn.
Metode:
1. Stel oond op 140°C.
2. Marineer die kersies in brandewyn.
3. Los kakao en koffiepoeier in kookwater op, voeg by die koekmengsel.
4. Plaas koeksoda en suiker in ‘n kastrol en kook vir 5 minute.
5. Verwyder van hitte en voeg die margarien en kersies by. Roer goed en laat afkoel.
6. Voer pan uit met waspapier binne die pan en agt lae bruinpapier buite om die pan, vasgemaak met tou. Maak ‘n deksel met foelie, blink kant na buite.
7. Voeg geklitste eiers by die vrugtemengsel.
8. Sif die koekmeel, bakpoeier, sout, gemengde speserye en gemmer saam en voeg dit stadig by die vrugtemengsel, roer goed.
9. Skep die beslag in die pan en bak 4 1/2 uur lank nadat jy foeliedeksel opgesit het..
10. Koel koek in die pan af. Wanneer dit afgekoel is, haal uit die pan en gooi die 25 ml brandewyn oor.
11. Draai die koek in foelie toe. Voer elke week 25 ml brandewyn by en maak weer toe.
Onthou om die koek in ‘n lugdigte houer te plaas.

Exit mobile version