Vier moorde op een dag in Limpopo

Die polisie ondersoek steeds drie voorvalle waarin vier mense in Limpopo vermoor is nadat van die verdagtes reeds in hegtenis geneem is. In die eerste geval ondersoek die polisie ‘n saak van moord, huisroof en brandstigting nadat Robbie Lotters en sy vrou, Una na bewering op hul plaas buite Modimolle vermoor is. Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, …

Die polisie ondersoek steeds drie voorvalle waarin vier mense in Limpopo vermoor is nadat van die verdagtes reeds in hegtenis geneem is.
In die eerste geval ondersoek die polisie ‘n saak van moord, huisroof en brandstigting nadat Robbie Lotters en sy vrou, Una na bewering op hul plaas buite Modimolle vermoor is.
Volgens provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto het die Lotters se bure omstreeks 19:00 ‘n brand op die Lotters se plaas gesien en ondersoek ingestel.
“By die bure se aankoms het hulle vir Robbie voor die huis, wat in vlamme gehul was, gevind. Hy het verskeie wonde aan sy kop gehad,” sê Otto.
Una kon nie opgespoor word nie en polisie het Maandag op haar verkoolde lyk in die huis afgekom. Otto sê verskeie huishoudelike items is in die veld gevind. ‘n Vierwielmotor-fiets is ook in die bos naby die Phagameng-nedersetting gevind.
In die tweede voorval is die lyk van Silvermist Resort in Haenertsburg se bestuurder, Rina Langenhoven (67) gevind. “Volgens inligting het ‘n huishulp die fonds gemaak. Langenhoven is glo Sondagaand aangeval terwyl sy televisie gekyk het. Haar hande is agter haar rug met kleefband vasgebind. Haar mond was ook toegeplak en haar lyk in onder ‘n matras in een van die kamers versteek,” sê Otto.
Drie verdagtes is in verband met Langen-hoven se dood in Mshongoville in Mankweng in hegtenis geneem. Een van die gearres-teerdes is ‘n voormalige werknemer van die oord waar Langenhoven vermoor is. Gesteelde goedere uit haar huis is in die ver-dagtes se besit gevind.
Die drie sal na verwagting môre (Donder-dag) in die Polokwane Landdroshof verskyn.
In ‘n derde voorval is die lyk van Freddy Madiba, ‘n landboudosent van die Universiteit van Limpopo (UL) voor sy huis in Mankweng gevind. “Familielede het glo Maandag sy lyk in ‘n rolstoel voor sy huurhuis op die universiteit se perseel gevind. Hy het verskeie oop wonde aan sy kop gehad. Volgens die ondersoekbeampte lyk dit of Madiba elders vermoor kon gewees het,” sê Otto.
‘n 29-jarige man is Maandagaand in hegtenis geneem in verband met die moord op Madiba. Hy sou na verwagting vandag (Woensdag) in die Mankweng Landdroshof verskyn.
Provinsiale polisiekommissaris Fannie Masemola het die speurders en lede van die polisie wat by hierdie sake betrokke was geloof vir hul vinnige optrede.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version