Editor's choiceLocal NewsNews

PJ droom om ‘n countrylegende te word

"Country is my voorkeur in musiek en my oogpunt is om 'n legende in countrymusiek te word" - PJ Burger

POLOKWANE – PJ Burger het in 2011 in ‘n meganiese rigting by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé gematrikuleer waarna hy ook die tegniese bedryf betree het.

Burger vertel dat dit nie lank geneem het om hom te laat besef hierdie bedryf, oftewel loopbaan, is nie vir hom beskore nie.

Sy hart het gehunker na die musiekbedryf.

“Ek was van kindsbeen af mal daaroor om met meganiese goed te werk, maar na skool het ek gou besluit motorwerktuigkunde is nie vir my beskore nie, en dat my eintlike passie musiek is.

“Ek het in ‘n gesin grootgeword waar musiek deur ons are vloei en vandag is my loopbaan uitsluitlik net musiek, en musiekskryf,” vertel Burger met sy kitaar aan sy.

Hy tree Woensdae, Vrydae en Saterdae by Nguni Grill op.

“As mense eensaam en alleen voel, of gelukkig of hartseer is, is musiek die een ding wat mense se hartsnare roer.

“Daar is seker nie ‘n mens op aarde wat nie na musiek luister nie, daar is altyd ‘n mark vir musiek.

“Dis ook een van die redes waarom ek besluit het om die musiekbedryf te betree. Met musiek kan ek myself uitleef,” sê Burger.

Burger vertel dat daar vir hom niks lekkerder is nie as om mense te vermaak.

Alhoewel hy ‘n wye smaak in musiek het is dit veral country wat hy sy passie voor uitleef.

“Country is my voorkeur in musiek en my oogpunt is om ‘n legende in countrymusiek te word. Ek sal ander markte soos die Afrikaanse bedryf oorweeg, maar hoofsaaklik is my fokus country.

“Vir my, vertel countrymusiek gewoonlik ‘n verhaal; soos byvoorbeeld, die liedjie The Gambler. Ek wil groot countrytreffers skryf en sing,” deel Burger sy toekomsdrome met Review.

Burger vertel hoe hy in die voetspore van countrymusieklegendes soos Alan Jackson en Bobby Angel wil volg.

Burger se musiekloop-baan is nog jonk en hy het in 2012 besluit om ‘n sangloopbaan te volg.

Hy wil binne die volgende jaar of so sy eerste CD vrystel.

“Ek het gedink om professionele mense soos die Coleske’s te nader om my CD op te neem. Hulle is van die beste op die mark wat opneem gehalte aanbetref en daarmee word daar ook ‘n som geld voor benodig om dit te kan doen.

“Ek kan aansienlik goedkoper betaal, maar ek wil nie ‘n CD met swak opneemgehalte op die winkelrakke hê nie, wat mense van die staanspoor gaan teleurstel nie.

“Dus sal ek eerder nog optree en geld maak totdat die tyd reg is om ‘n top kwaliteit CD vry te stel,” sê hy.

Die 22-jarige sanger het heelwat op sy kerfstok wat hy in sy musiekloopbaan wil aanpak, soos onder meer die mondfluit te bemeester en saam met sy musiekoptredes te gebruik en om eendag voor ‘n groot gehoor soos die grote van Carnival City of Sun City se Superbowl op te kan tree.

Een van sy hoogtepunte sal wees om country legendes van Nashville, Tennessee te kan ontmoet om raad en daad by hulle te kry om sy countryloopbaan nog verder te bevorder.

“My ideaal is om nuwe countrytreffers te skryf, en nuwe lewe in die countrymusiekbedryf in Suid-Afrika te blaas.

Mense wat hom graag wil kontak vir optredes kan hom by 076 835 8708 skakel.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button