Pragstukke met laser geskep

Eilers het sowat twee jaar terug vir haar 'n laserhoutsnymasjien gekoop as stokperdjie en deesdae kan sy amper nie meer voorbly met al die bestellings wat instroom nie.

POLOKWANE – Alwine Eilers het die geleentheid met albei hande aangegryp nadat haar kinders uit die nes was om meer tyd vir haarself te hê.

Sy het ‘n geruime tyd by ‘n advokaat in die stad gewerk, maar na haar kinders uit die huis was het sy besluit om eerder haar stokperdjies na te jaag. Eilers het sowat twee jaar terug vir haar ‘n laserhoutsnymasjien gekoop as stokperdjie en deesdae kan sy amper nie meer voorbly met al die bestellings wat instroom nie.

“Ek het die masjien laat invoer en ek en my man, Willem, het dit by O.R. Tambo Lughawe gaan afhaal. Daar gekom het ons eers gesien hoe groot die masjien werklik is en het ‘n platbak-sleepwa gehuur om hom te vervoer, want dié sou nie in ons bussie pas nie,” vertel sy laggend.

“Ek was heel opgewonde oor my nuwe ‘speelding’ en het dadelik weggespring om te eksperimenteer. Dis wel eers die afgelope jaar wat ek meer ernstig kunswerke maak, ek moes eers leer hoe om te ontwerp. Dit is vir my wonderlik om nie meer aan ‘n ‘baas’ gebonde te wees nie en vir myself te werk. Dit gee my kans om meer tyd aan myself en my man te spandeer.”

Soos wat mens in die Eilers-woning se sitkamer instap, begroet ‘n enorme boom jou. Dit is ‘n projek wat sy self met haar lasermasjien geskep het. Die boom het foto’s wat aan die takke hang en beeld ‘n groot familieboom uit.

“Wanneer mense of kliënte by my huis instap en ons familieboom sien, word daar gewoonlik bestellings vir ‘n soortgelyke boom geplaas. Nog iets wat ek maak wat baie gewild is, is my troukaartjies.”

Eilers gebruik ‘n spesifieke soort geelhout aangesien dit die maklikste verwerk vanwee die sagtheid daarvan. Sy gebruik hout tussen drie en ses millimeter in deursnee om haar kunswerke te maak.

Hulle stal gereeld haar kunswerke uit by kerkbasare, vlooimarkte, kunsmarkte en die immergewilde Haenertsburg Kersiefees.

“As ek en Willem saam gaan om uitstallings te behartig, dan maak hy vetkoek met maalvleis. My man maak die heerlikste kos, ek sê altyd in sy vorige lewe moes hy ‘n kok gewees het, want sy kos is heerlik.

Diegene wat belangstel om van haar unieke kunswerke aan te skaf kan haar kontak by 082 585 5831.

Alwine Eilers hou ‘n ogie op die laser-houtsnymasjien waarmee sy haar unieke, self-ontwerpde kunswerke maak.
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version