Ontmoet die nuwe Mev. Polokwane, Jackie Shrives

Op Saterdag, 21 November, was Jackie as Mev. Polokwane 2016 gekroon.

POLOKWANE – Om 32 jaar oud te word is gewoonlik nie ‘n uitsonderlike spesiale dag nie, maar vir Jacqueline Shrives, beter bekend as Jackie, was dit een dag in haar lewe wat sy nooit sal vergeet nie.

Dit was Saterdag, 21 November, toe sy as Mev. Polokwane 2016 gekroon is. (VIDEO: Review praat met Jacqueline Shrives, net na sy as Mev. Polokwane 2016 gekroon is)

“Ek was baie verbaas en herstel nou nog van die skok. Ek het nog nie eers begin beplan aan my projekte nie,” het sy Maandag aan Review vertel.

“Ek wil graag met die kanker kinders betrokke raak asook met die Amazing Grace trustfonds wat gestig word om ouers te help om swanger te raak.”

Jackie is getroud met JP en die ma van twee dogtertjies, Juané (4) en Evelyn (2). Sy het by Hoërskool Pietersburg gematrikuleer en daarna Verenigde Koninkryk (V.K.) toe gegaan waar sy vir ‘n jaar in ‘n hotel gewerk het.

Daarna het sy terug Suid-Afrika toe gekeer en teologie studeer by Die Lewende Woord. Na haar en JP se troue nege jaar gelede, het hulle in Polokwane kom bly waar sy eers kantoorwerk gedoen het.

“Toe ek my eerste baba gehad het, het ek begin om Babagym aan te bied en daarna het ek Kindermuzik bygebring. Ek het dit net ‘n jaar gedoen toe ek die Pienkvoet Pret Franchise gekoop het en dit is nou my voltydse werk.”

Sy was eers onseker of sy moet inskryf vir Mev. Polokwane, en het op die nippertjie besluit om dit te doen.

“Ek voel elke persoon het ‘n sosiale verantwoordelikheid om terug te gee aan die gemeenskap en nou is dit my beurt. Ek is lief vir die stad en sy mense. Ek wil graag hê mense moet aan die einde van my termyn sê: ‘Sy het ‘n verskil gemaak’, soos hulle van al die vorige wenners gesê het.”

Sy vertel JP ondersteun haar baie en hy was uit sy nate toe sy wen.

Mev. Polokwane 2016 finaliste op die verhoog, 21 Nov

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version