BlogsBosveld NewsNewsOpinion

Agter slot en grendel leer ‘n mens baie vinnig om dankbaar te wees

REDAKTEUR SE INK: "Imagination is the highest kite you can fly." Niemand kan dit van hom wegvat nie en dit is al wat hy oor het hier waar hy agter slot en grendel sit tot die dag wat hy sy houtjas aantrek.

“Imagination is the highest kite you can fly.” Niemand kan dit van hom wegvat nie en dit is al wat hy oor het hier waar hy agter slot en grendel sit tot die dag wat hy sy houtjas aantrek.

Die tingerige man met die oranje oorpak en tattoe op sy voorarm gesels met my oor sy lewe agter die hoë mure in maksimum C gevangenis in Pretoria waar hy ‘n lewenslange vonnis uitdien saam al die ander wat moord gepleeg het.

‘n Mediabesoek wat ek nie sal vergeet nie en so ook nie die oorvloedige dankbaarheid vir dit wat ek is en wat ek het nie.

Voor jou sit vlees en bloed wat iewers verkeerde afdraaipaaie gevat het en nou daarvoor boet.

Die wyfies wat hier in die tronk verby ons loop kan jy maklik eien.

Hulle steek ook nie hulle HIV positiewe status weg nie, want ‘n mens sien sommer die eerste aand agter die tralies jou alie as jy nie jou man kan staan teen die rowwe bendeleiers nie.

Die jong man voor my beduie hoe hy sy selfoon eers in ‘n vol Omo-boks weggesteek het en toe onder die strykyster ‘n deel losgesny het om dit daarbinne te bêre. Die bewaarders het lank gevat voordat hulle dit kon opspoor, maar nou is hy hierdie onwettige kommunikasie met die buitewêreld kwyt. Sy vryheid na soveel jare agter die tralies was nou die dag nog so naby sê hy met skrefies oë wat ver kyk, maar toe lem hy “per ongeluk” ‘n makker. Nou sal hy hier binne moet doodgaan saam sy verlange na die groot bloubranders, sy ma se lekker kerrie-afval en Trisha wat hom lankal terug al laat staan het.

Een lewe, dit is al wat jy kry. Jy is in beheer en draai die stuurwiel, links, regs of reguit, die keuse is joune.

Dis hier aan die anderkant van die hoë mure dat jy met ander oë na vryheid en dankbaarheid kyk. Die vryheid om vrylik rond te beweeg, jou sê te sê en die Bybel oop te maak.

Jy stap laatmiddag daaruit met die slotte van al die hekke wat agter jou gesluit word en wonder of diegene wat gelukkig is om hier uit te kom ooit die klank daarvan kan vergeet. Jy sê dankie dat jy tot nou koers kan hou agter jou stuurwiel.

Dankbaarheid laat ‘n mens fokus op dit wat saak maak. Dikwels is dankbaarheid die laaste ding waaraan ons dink, veral wanneer ons swaarkry.

‘n Mens fokus dan op die pyn wat jy ervaar, die slegte gevoelens en die oplossings wat jy hoop een of ander tyd hul opwagting gaan maak.

Dankbaarheid is egter ook daardie waarde om jou te help om positief oor jouself en jou omstandighede te dink.

Hier op Mokopane het ons baie om voor dankie te sê, maar week na week sien en beleef ek en joernalis, Jolandi Fourie, hoe ondankbaarheid soos ‘n seer toon uitstaan, en so dikwels oor nietighede.

Ons werk lang en harde ure om die gemeenskap ingelig te hou.

Daar is soveel hartseer oomblikke soos wanneer jy op ‘n Saterdagaand dit waarmee jy besig was moet los om te haas na ‘n ongelukstoneel waar iemand voor jou in die pad lê wat dit nie gemaak het nie. Jy luister na mense wat aangehou is in ‘n gewapende rooftog of ‘n ma wat hartverskeurend huil oor haar kind wat sy verloor het. Op kantoor skryf ons oor al die seerkry en moet soms onsself daaraan herinner dat jy net jou werk hier doen en dit wat jy weergee op papier nie noodwendig jou persoonlike mening is nie . Iets wat die man op die straat nie altyd verstaan nie.

Om soveel te beleef leer ‘n mens nie net van nederigheid nie, maar ook wat dankbaarheid beteken.

Dit skuur en skaaf aan jou menswees om aan die einde van ‘n lang dag met ‘n groot hart huis toe te gaan en jou geliefdes te koester.

Related Articles

Back to top button