Reën bring verligting, maar skade is groot

Die departement van korporatiewe regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) het Dinsdag bevestig dat die provinsiale rampbestuurspan na verskeie gebiede ontplooi is nadat groot skade Sondag deur hael en swaar reën aangerig is. Terwyl inwoners van Burgersfort, Hoedspruit en Levubu erg deur haelskade geraak is, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens nog swaar weer vir die …

‘n Palmboom is in Marshallstraat deur weerlig getref.
‘n Palmboom is in Marshallstraat deur weerlig getref.

Die departement van korporatiewe regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) het Dinsdag bevestig dat die provinsiale rampbestuurspan na verskeie gebiede ontplooi is nadat groot skade Sondag deur hael en swaar reën aangerig is.
Terwyl inwoners van Burgersfort, Hoedspruit en Levubu erg deur haelskade geraak is, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens nog swaar weer vir die volgende week voorspel.
Die suidelike deel van Waterbergdistrik en dele van die Sekhukhune- en Mopanidistrikte is die ergste getref met byna 200 huise wat deur ‘n stormsterk wind dakloos gelaat is. In die Mopanidistrik alleen is meer as 110 huise se dakke afgewaai terwyl verskeie motors en besighede in puin gelê is. Sommige boere het miljoene rand se skade gelei nadat oeste deur hael platgeslaan is.
Coghsta-woordvoerder, Motupa Selomo sê: “In Maruleng is 70 families dakloos gelaat en in Fetakgomo is 40 families sonder heenkome. Ses van hierdie families het nie eers komberse of matrasse oor nie. Een van die gesinne se huis is heeltemal platgevee deur sterk wind. ” In Lepelle Nkumpi is ongeveer 22 gesinne erg deur swaar reën en sterk wind geaffekteer.
Coghsta LUR, Makoma Makhurupetje het in ‘n persverklaring gewaarsku teen verdere skade wat moontlik deur nog swaar reën veroorsaak kan word. “Mense kan rampbe-stuur by 0800 222 111 skakel. Om verdere hartseer te voorkom moet kinders nie naby riviere of verwaarloosde geboue speel nie.”
Anna Lessing, ‘n besigheidseienaar van Burgersfort sê hael met groot hoeveelhede reën en sterk wind het Sondag voorgekom. “Winkels se dakke het afgewaai en is beskadig. Van die besighede sal ‘n tyd gesluit wees vir herstelwerk. Dit is nou die besigste tyd van die jaar en winkel-eienaars het geen alternatiewe inkomste nie. Personeel moet betaal word.”
Janine Steenekamp en haar ma se motors is erg beskadig toe die afdak waaronder hul motors geparkeer was, omgewaai het.
In Hoedspruit het haelkorrels so groot soos gholfballe groot skade by veral sitrus- en tonnelboere aangerig. Motors se ruite is stukkend geslaan terwyl ander vol duike is.
Werner Muller, ‘n boer van Levubu het ongeveer 30% van sy oes verloor. “Baie van die neute en avokado’s is afgeslaan en skade is op die koollande aangerig. Ek het reeds merke op sommige koejawels en papajas opgemerk, maar dit sal duideliker word hoe groter die vrugte word en sal definitief die markprys beïnvloed.”
Polokwane het die haelstorms vry gespring, maar nooddienste moes Saterdagaand vinnig reageer nadat weerlig ‘n palmboom in Marshallstraat raakgeslaan en dit vlam gevat het. ‘n Huis is volgens inligting ook in Rabéstraat deur weerlig getref.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Swaar reën het in Burgersfort geval.

Haelkorrels so groot soos litchi’s het groot skade aan oeste in Levubu veroorsaak.
Motors is in Hoedspruit deur hael vernietig.
Mure het in Burgersfort meegegee.
Hael het veral in Burgersfort dik gelê.
In Hoedspruit was haelkorrels groter as gholfballe.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version