Ondersteun Solidariteit Helpende Hand se skooltassieprojek

Omdat daar talle ouers is in Suid Afrika wat finansieel sukkel om kop bo water te hou, het Solidariteit Helpende Hand besluit om behoeftige kinders van 'n nuwe skooltas met nuwe skryfbehoeftes te voorsien.

POLOKWANE – Omdat daar talle ouers is in Suid Afrika wat finansieel sukkel om kop bo water te hou, het Solidariteit Helpende Hand besluit om behoeftige kinders van ‘n nuwe skooltas met nuwe skryfbehoeftes te voorsien. Dié tas se inhoud sal ‘n rol speel om van hulle leerprobleme uit te stryk sodat hulle nie agter raak met hul skoolwerk nie.

“Helpende Hand glo dat armoede uitgewis kan word deur in onderrig te belê. Dit begin reeds met die gevoel van hoop wat by gr. 1-leerders geskep word wanneer hulle die nodige skoolgoedjies kry. Dis ongelooflik om die kinders se opgewonde gesiggies te sien wanneer hulle die nuwe skooltassies uitpak,” vertel Marlien van der Westhuizen, mediaskakelbeampte van Solidariteit Helpende Hand.

“Elke skooltassie sal soos gewoonlik al die nodige skryfbehoeftes bevat, maar vanjaar sal daar ‘n paar bykomende items wees.

“Die inhoud van die tassie moet daartoe bydra dat die kinders se ‘eendag as ek groot is’-droom ‘n werklikheid kan word. Om uit te vind wat in die skooltassie moet wees, het Helpende Hand navraag by gr. 1 onderwysers gedoen.”

Helpende Hand het ‘n opname gedoen by meer as 200 skole wat in 2016 skooltasse gaan ontvang.

Dit het duidelik geword dat perseptuele en motoriese vaardighede die grootste twee leerprobleme vir gr. 1’s is. Om die motoriese vaardighede aan te help, het Helpende Hand Unifix-blokkies en ‘n legkaart by die skooltas ingesluit. Daarby word kinders se perseptuele vaardighede verder verbeter deur op die witbord, ook ingesluit in die tas, te skryf.

Daar sal 4 762 skooltasse aan behoeftige gr. 1’s geskenk word en die totale waarde van die projek is nagenoeg R1,8 miljoen.

Jy kan help om seker te maak dat hierdie kinders se ‘eendag as ek groot is’-droom ‘n werklikheid word. SMS die woord “Tassie” na 38969 om R10 te skenk wat kan bydra om ‘n tassie vol skryfbehoeftes te maak.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version