Local NewsNews

Bewusmaking teen stropers

Die toenemende afmaaiing van renosters in Limpopo en regoor Suid-Afrika het plaaslike renostereienaars verlede jaar genoop om die Limpopo Rhino Security Group (LRSG) te stig. Die groep fokus om mekaar by te staan en saam teen renosterstroping en -slagting te veg. Een van die stigterslede en renostereie­naar, wat verkies om anoniem te bly, sê eienaars …

Die toenemende afmaaiing van renosters in Limpopo en regoor Suid-Afrika het plaaslike renostereienaars verlede jaar genoop om die Limpopo Rhino Security Group (LRSG) te stig. Die groep fokus om mekaar by te staan en saam teen renosterstroping en -slagting te veg.
Een van die stigterslede en renostereie­naar, wat verkies om anoniem te bly, sê eienaars het begin moedeloos raak omdat hul noodroep op dowe ore val en nie behoorlik opgevolg of ondersoek word nie.
“Renostereienaars spandeer miljoene rand om hul diere te bewaar, maar sommige kan dit nie meer bekostig nie. Ons hoop om met die groep bewusmaking te skep sodat besighede miskien die geleentheid sal aangryp om ‘n bydrae tot die inisiatief te maak,” sê sy.
Sy sê LRSG-lede is almal renostereienaars wat saamspan om hul diere te beskerm. “Ons sien stropers van aangesig tot aangesig en stel ons eie en families in lewensgevaar om die pragtige diere te beskerm.”
LRSG het nou bande met die polisie, plaaslike gemeenskappe, renosterspesialiste en beskermingsorganisasies en het daarin geslaag om ‘n 82% afname in stropings in die gebied te toon.
“Stroping het egter die afgelope tien dae in die noordelike deel van Limpopo begin toeneem met ses renosters wat gestroop en drie gewond is. En dit is slegs op plase van ons lede. Ons het verlede jaar die groep met 18 renostereienaars begin en ons ledetal is tans op elf omdat lede tou opgegooi het en uit moedeloosheid van hul renosters of selfs hul plase verkoop het,” sê sy.
LRSG-groep verteenwoordig ‘n groot persentasie van renosters wat in privaateienaarskap is. “Ons moedig renostereienaars aan om aan te sluit omdat dit werklik ‘n verskil kan maak. Alles gaan oor spanwerk. Saam kan ons ‘n verskil maak deur mekaar te ondersteun en by te staan wanneer die nood roep.”
Gespesialiseerde toerusting, gewapende viermanpatrollie en ‘n beheerkamer wat 24/7 beman moet word, kos baie geld. “Maak nie saak hoe klein of groot die bydrae is nie, elke bietjie help,” sê sy.
Besoek LRSG se webtuiste by www.lrsg.co.za. vir meer inligting. Die groep se bankbesonderhede vir donasies is op die webtuiste beskikbaar.
Die woordvoerder van Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme (Ledet), Burcles Napo kon nie bereik word om die nuutste statistiek van renosterstropings in die provinsie bekend te maak nie.

Storie:

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Foto: Ses renosters is die afgelope tien dae in die noordelike dele van Limpopo gestroop.

Related Articles

Back to top button