‘Musiek is beslis my passie’ – Petrich

"Ek sing van ek kan onthou. Ek skryf ook al my eie liedjies"

POLOKWANE – Reeds van kleins af is Petrich Brits (18) aan musiek blootgestel toe hy by sy ma se voete geslaap het terwyl sy by die biduur in die kerk orrel gespeel het.

“Ons hele familie is musikaal. My pa en oupa sing en my ma kon enigiets met musiek maak terwyl sy nog geleef het.

“My eerste optrede was kort na my ma se dood. Ek het You raise me up van Josh Groban by ‘n biduur gesing – ek was toe maar agt jaar oud.”

Tans is Petrich ‘n aanbiddingsleier by die Taberna Dei Ooskampus terwyl hy ook sy lyf student by die Rock Hard Music School hou.

“Ek sing van ek kan onthou. Ek skryf ook al my liedjies self behalwe Candle in the rain wat deur Marius Dippenaar geskryf is. Dit was ook die eerste liedjie wat op radio en Soundcloud gespeel is,” vertel die begaafde jong man.

Hy hou daarvan om sy eie musiek te skryf, “want dan kan ek meer emosie daarin sit en werklik verstaan waaroor dit gaan en waaroor ek moet sing”.

Sy gunsteling liedjie wat hy self geskryf het is Sing vir my, ‘n akoestiese liedjie wat meer rustig is.

https://soundcloud.com/rock-hard-music/sing-vir-my-petrich-official

(Meer musiek op Soundcloud)

Petrich is gek oor die bekende liedjie Brown eyed girl van die Ierse sanger, Van Morrison.

Hy verklap baie van die kerkliedjies is vir hom moeilik om te speel en sing.

Behalwe sing speel hy ook akoestiese kitaar. Hy help ook graag ander kunstenaars om instrumente te leer bespeel, net soos JP Duvenage by die Rock Hard Music School.

“Musiek is beslis my passie. Ek wil niks anders doen as om net musiek te maak nie,” voeg hy vir oulaas vasbeslote by.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version