Local NewsNews

Maak harte oop vir die jong Justin

Justin Stehnken benodig 'n dringende nieroperasie, sy familie vra die gemeenskap vir hulp.

POLOKWANE – Buite op die gras speel jong kinders en ontmoet jy dan hulle ma, Geraldine Stehnken, en bababoetie, Justin, sal jy nie sommer raai groot bekommernis heers tans in dié gesin se harte nie.

“My jongste seun, Justin, is in Januarie na ‘n normale swangerskap gebore. Tydens my swangerskap het die dokter wel opgemerk sy linkernier funksioneer nie lekker nie, en gesê ons moet dit dophou. Hy is toe gebore met ‘n obstruksie in sy nierpyp,” vertel Geraldine waar ons in die sitkamer sit en gesels.

Klein Justin sit en speel by ons en op die oog af lyk hy baie gesond.

“Die dokter sê aangesien hy met die kondisie gebore is, besef hy nog nie hy het pyn nie. Sy lewer, blaas en milt werk darem reg maar volgens die dokter is albei sy niere geraak – die linker een is net baie erger.”

Alhoewel Geraldine en haar man, Johnny, aan ‘n mediese fonds behoort, dek dit nie die uitgawes van ‘n dringende operasie nie aangesien die probleem reeds voor Justin se geboorte gediagnoseer is.

“Enige behandeling of operasie is tans op ‘n wagtydperk op die mediese fonds tot volgende jaar.

“Justin kan ongelukkig nie wag vir behandeling of ‘n operasie nie. Dit moet so vinnig as moontlik gedoen word anders kan hy sy nier verloor. Altwee niere moet gedoen word. Die dokters meen ook hy is te jonk vir dialise.”

Justin se ouers het ook by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal om hulp aangeklop maar weens gebrekkige toerusting en teaters wat nie voldoen aan die nodige vereistes vir so ‘n operasie en behandeling nie, kan Justin nie daar behandel word nie.

Sy ouers benodig nou dringend R50 000 om die operasie in Mediclinic Limpopo te laat doen.

“Dit is regtig baie dringend en ons vra mense moet ons asseblief help,” voeg Geraldine by.

Die bankbesonderhede is as volg:

Rekeningnaam: Geraldine Stehnken

Bank: Nedbank

Tjekrekeningnommer: 1103726129

Takkode: 111905

Related Articles

Back to top button