Local NewsNews

Serala Village-moordverdagte môre in hof

Alex Talent Chauke wat daarvan verdink word dat hy Ignat Oosthuizen op 5 Mei in sy huis in Serala Village met ‘n mes doodgesteek het, sal na verwagting weer môre (Vrydag) in die Polokwane Landdroshof, waar hy minstens vyf kriminele aanklagte in die gesig staar, verskyn. Chauke het Maandag vlugtig in die hof verskyn nadat …

Ignat Oosthuizen is in Mei met ‘n mes in die nek gesteek.
Ignat Oosthuizen is in Mei met ‘n mes in die nek gesteek.

Alex Talent Chauke wat daarvan verdink word dat hy Ignat Oosthuizen op 5 Mei in sy huis in Serala Village met ‘n mes doodgesteek het, sal na verwagting weer môre (Vrydag) in die Polokwane Landdroshof, waar hy minstens vyf kriminele aanklagte in die gesig staar, verskyn.
Chauke het Maandag vlugtig in die hof verskyn nadat hy verlede Donderdag deur lede van die misdaadvoorkomings-, opsporings- en tekkie-eenhede vasgetrek is.
Polokwane polisie se kommunikasiehoof, Ntobeng Phala sê Chauke word tans op ‘n klag van moord, twee van huisbraak en twee van inbraak by besighede aangekla. “Daar is ‘n moontlikheid dat hy met nog misdrywe verbind kan word en dat daar nog klagte by die klagstaat gevoeg kan word. Chauke is reeds positief met Oosthuizen se moord verbind,” sê Phala.
Polokwane stasiekommissaris, Sam Mokgonyana het sy dank teenoor mense wat inligting wat tot Chauke se inhegtenisname gelei het aan die polisie verskaf het, uitgespreek. “Dit is weer ‘n bewys dat wanneer die gemeenskap en die polisie hande vat, kriminele geen skuiling het nie. Hoe meer inligting ons ontvang, hoe vinniger kan ons dit opvolg en boosdoeners vastrek,” sê hy.
Oosthuizen is die aand van die voorval vermoedelik met ‘n mes in die nek gesteek na ‘n stoeiery met Chauke wat glo by hul huis in die veiligheidskompleks ingebreek het. Sy vrou, Simoné het die geskarrel gehoor en is in die proses om haar man te probeer help ook beseer. Oosthuizen het in die huis doodgebloei.
Chauke se vingerafdrukke is op die toneel gevind en die polisie het toe reeds ‘n foto van hom vrygestel.
Oosthuizen se ma, Jane, sê hulle is bly dat die vermeende aanvallers vasgetrek is. “Dit gaan nie my seun terugbring nie, maar hy is hopelik vir goed van die strate af sodat ander nie sy slagoffers word nie. Nou wag ons dat geregtigheid sal geskied,” sê sy.
Sy wil graag die hofverrigtinge bywoon. “Ek wil sien hoe lyk die man wat my kind vermoor het. Ons is nog baie hartseer en dit voel of dit net nie beter word nie. Die verwagting dat hy gaan terugkom bly by my. Ons lewe dag vir dag en het net weer besef dat die lewe baie kort is,” sê sy.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Featured photo: Alex Talent Chauke

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button