Local NewsNews

Koekedoor-wenner vol kwinkslae by PHS

Vanjaar se Koekedoor-wenner, Mareli Visser het Saterdag by Hoërskool Pietersburg (PHS) haar laaste demonstrasie vir die jaar gehou. PHS-leerkrag, Juanita Marx het die damesoggend ten bate van minder gegoede leerders in die skool gereël. Visser sê sy hou eintlik meer van broodbak en knie as om koeke te bak en te versier omdat sy nie …

Juanita Marx van PHS het die vroueoggend met die Koekedoor-demonstrasie gereël om geld vir minder bevoorregte leerders in te samel.
Juanita Marx van PHS het die vroueoggend met die Koekedoor-demonstrasie gereël om geld vir minder bevoorregte leerders in te samel.

Vanjaar se Koekedoor-wenner, Mareli Visser het Saterdag by Hoërskool Pietersburg (PHS) haar laaste demonstrasie vir die jaar gehou.
PHS-leerkrag, Juanita Marx het die damesoggend ten bate van minder gegoede leerders in die skool gereël.
Visser sê sy hou eintlik meer van broodbak en knie as om koeke te bak en te versier omdat sy nie ‘n soettand is nie. Sy het tien jaar gelede begin bak toe ‘n vrou haar gevra het om ’n troukoek te bak nadat iemand anders kop uitgetrek het.
“My eerste vyflaagkoek het my byna drie weke geneem om te voltooi. Die versiering van die koek was die grootste plesier. Ek bak net vir die lekker omdat ek uit ‘n groot gesin kom waar al die familie in een dorp woon. Daar is altyd iemand wat my gebak sal eet.”
Dit was Mareli se 36ste demonstrasie vanjaar waarvoor sy die land letterlik deurkruis het. “Dit bly die lekkerste by die huis al het ek wonderlike plekke gesien.”
Sy het ‘n dogter van nege en ‘n seun van 13 en beplan om volgende jaar meer by die huis in Douglas te wees en bakskole aan te bied.
Sy is ‘n plat-op-die-aarde mens met ‘n goeie skoot humor. Tussen die demonstrasie van haar roosmaryn- en nartjiesponskoek verduidelik sy wat sy doen en vertel kostelike staaltjies oor die Koekedoor werklikheid-reeks.
‘n Goeie wenk wat sy gegee het, is om te spaar en ‘n mooi hoë koekbord te koop waarop koek vertoon kan word. “Dis soos hoëhakskoene. Maak nie saak wat jy daarop neersit nie, dit lyk net beter.”
Sy sê dat bakkers ook by vertroude resepte moet hou. “Ek het net twee resepte. By die een resep vir ‘n wit sponskoek gooi ek meelblom in, en vir ‘n sjokeladekoek vervang ek die meelblom met kakao,” vertel sy.
Sy het die sowat 160 dames gewys hoe om spinsuiker te maak en voorgestel dat hulle dit liefs by ‘n vriendin se huis maak. “Dit kan nogal ‘n gemorsery met die spindrade afgee.”
Na die demonstrasie het die vrouens heerlike tee en koek, wat deur ouers van die Verteenwoordigende Leerderraad (VLR) gebak is, geniet.

Storie: NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com

Hooffoto: Koekedoor-wenner, Mareli Visser neem vroue op ‘n vermaaklike fyngebakreis tydens PHS se damesoggend.

“Spinsuiker maak mens liefs by ‘n vriendin se huis,” vertel Mareli Visser.
“Spinsuiker maak mens liefs by ‘n vriendin se huis,” vertel Mareli Visser.
Anna-Marie Niehaus het van haar skilderye uitgestal tydens die Koekedoor demonstrasie.
Anna-Marie Niehaus het van haar skilderye uitgestal tydens die Koekedoor demonstrasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button