Local NewsNews

René’s kinderboeke: elkeen ‘n les tussen die blaaie

René Annandale is 'n onderwyser by Pemps en het reeds in gr. 6 haar eerste storie geskryf.

POLOKWANE – Daar is stemme in haar kop en wanneer hulle gereed is vertel hulle hul storie aan René Annandale en is hy gereed om dit dan op papier te sit.

Uit dié stemme word wonderlike storieboeke vir kinders gebore.

René is ‘n onderwyser by Pemps en het reeds in gr. 6 haar eerste storie geskryf.

“Ek was op skool reeds baie lief vir opstelle skryf. Die storie wat ek geskryf het toe ek gr. 6 was, het ek later aan ‘n uitgewer voorgelê wat toe voorgestel het ek brei dit na ‘n jeugboek uit.”

René is in Port Elizabeth gebore en het in 2001 saam met haar man en twee dogters na Polokwane verhuis.

Hier het sy by Pemps vir die gr. R klas begin skoolhou.

Daarna het die lewe met haar ‘n paar draaie gestap en sy is na ander skole en het ook ‘n privaat praktyk oopgemaak vir kinders met leerprobleme voor sy weer by Pemps ingeval het.

Dié talentvolle onnie het reeds drie kinderboeke uitgegee.

Sy vertel haar liefde vir kinders help haar om vir spesifiek vir hulle te skryf.

“Kinders neem alles letterlik op. Elkeen van my boeke bevat ‘n les. Die boeke is in Afrikaans geskryf en ook in Engels vertaal. Ek sal dit graag ook in ‘n swart taal wil vertaal.”

René kry verskillende tye van die dag idees vir stories, soos toe Radys die Veldmuis op die speelgrond gebore is.

“Daar was ‘n muis op die speelgrond en ek het hom so gesit en bekyk en skielik was daar ook ‘n storie.”

Sy vertel dat sy altyd eerste in potlood skryf, want dit vloei so lekker.

Daarna sit sy dit oor op rekenaar waar sy veranderinge aanbring en so gaan dit aan tot sy tevrede is. Die illustrasies word ook deur haar voorgeskryf sodat dit presies by die storie kan pas.

Die titels van haar ander twee boeke is: Die Vuurkoning en Toppie gaan skool toe. Elkeen lê haar na aan die hart.

René erken sy oorweeg dit om dalk eendag vir volwassenes ook te skryf.

Nie dat sy baie ledige tyd het nie want sy skryf en rig ook kinders af om gedigte, monoloë, enkelbedrywe en mimiek by feeste te kan opvoer.

In haar vrye tyd meem sy graag foto’s en lees baie.

Tussendeur studeer sy nagraads en hanteer die skool se biblioteek.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button