Vir haar het meetsnoere reg geval op Vrydag die 13de

Soos Dia wie op 'n lieflike Vrydag, 13 November 1964, die eerste lewenslig in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal aanskou het - sommer vroeg al 'n kreatiewe raakvatter.

POLOKWANE – Sommige mense is bygelowig oor Vrydag die 13de, maar vir baie bring dié dag of datum net goeie herinneringe.

Soos Dia wie op ‘n lieflike Vrydag, 13 November 1964, die eerste lewenslig in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal aanskou het – sommer vroeg al ‘n kreatiewe raakvatter.

As eerste dogter na vier seuns was haar gunsteling kleur nooit regtig pienk nie. Haar gesin het in Turfloop gewoon en hier het sy as klein dogtertjie vir Ngoako Ramathlodi en sy vrou, Ouma, leer ken.

“Ek was in Laerskool Pietersburg (Suidskool) in gr. 1 en gr. 2 en was daarna tot in gr. 6 in Laerskool Pietersburg-Noord (Noordskool). Dit was die topskool in die dorp. Ons het rooi atletiekdrag gehad en was bekend as die rooi blitsies,” onthou Dia.

Dié gebore en getoë inwoner van Polokwane het ‘n paar jaar gelede na Pretoria verhuis waar sy bekend en geliefd in die gemeenskap is vir projekte soos Prom Night, BoekeJol, FilmRolfees en Hieb om net ‘n paar te noem.

Dia is na skool na Potchefstroom om onderwys te studeer waarna sy skool gehou het vir ‘n paar jaar.

“Die onderwys se ‘boksie’ het my bietjie begin druk en onderwysers was nie baie mal oor die juffrou met die stertjie wie baie sing en dans in haar klas nie. Ek het nooit werklik op skool deelgeneem aan konserte nie. Daar was altyd iemand wat ek gedink het beter is. Ek het wel spraak en drama as ‘n vak geneem en het later ‘n dramaklub gehad toe ek by Noordskool skoolgehou het. Dit was vir my heerlik. Ek het egter elke jaar die ys gebreek met ‘n modeparade. Dit het die kinders, sonder dat hulle nodig gehad het om te praat, voor ‘n gehoor laat optree. Dit was ‘n goeie ysbreker vir die res van die jaar se optredes,” vertel Dia.

Sy het vir baie jare sangers se konserte gereël, maar nou is dit boeke, skrywers en uitgewers wie haar aandag eis. “Ek het ‘n oorweldigende respek vir skrywers. Die meerderheid is introverte wie so baie van hulle harte met ons as lesers tussen die blaaie deel. Dit is vir my ‘n voorreg om hulle te bemark en op ‘n verhoog te plaas.”

Sy vertel mense is haar grootste passie in die lewe, saam met ‘n tikkie musiek en lag tussendeur.

Vandat sy in Pretoria woon is dinge vir haar anders. “Jy moet jou roetes beplan as jy die strate invaar. Jy kan vreeslik brandstof mors as jy nie jou afsprake op ‘n rits beplan nie. Ek en Christene (my GPS) is beste vriendinne. Ek gaan nêrens sonder haar nie. Jy kan beslis maklik wegraak in die stad. Die afgelope byna twee jaar het ek gefokus op netwerk bou. Aangesien ek nie die stad geken het nie, was dit skouer-aan-die-wiel om anoniem by mense in te stap, jouself voor te stel en sonder enige verwysing jouself te bemark. Ek stoei steeds daarmee. Ek staan egter elke oggend op en weet God se plan is soveel beter as myne.”

Sy mis Polokwane en haar hartsmense hier en het geen begeerte om Polokwane se stof finaal van haar voete te skud nie.

“Ek wil my wortels onthou en elke dan en wan weer opgrawe. Ek lief ‘Pollies’ en sy mense. Hier is ‘n baie groot groep oud-Polokwaniërs in Pretoria. Ons poog om eenkeer ‘n maand koffie te drink en te onthou. Dit is ‘n fees. As jy van Limpopo is verstaan jy kultuurverskille en het respek daarvoor. In Gauteng gaan iemand nie sommer die premier se nommer op sy foon hê nie. Limpopo het aan my ‘n verhoog gegee wat my menswees, my lewenswysheid, my verstaan van verskille en my verdraagsaamheid baie sterk ontwikkel het. Ek is dankbaar daarvoor. Ek het hier in die grote stad weer kom leerbaar word. Ek leer elke dag by iemand iets of deur ‘n fout wat ek maak. Ek mis my kerk, N.G.-Noord, ook geweldig.”

Dia vertel in haar eerste jaar in Pretoria het niks uitgewerk nie. Sy het vir meer as 81 poste aansoek gedoen en niks gekry nie. Sy en Riaan Grobler, vir wie sy in Piet Hugo skoolgehou het, het saam begin werk. Hulle het die bemarking van die Afrikaanse rolprent Mooirivier hanteer.

Intussen het sy in Julie vanjaar die toer van die Drakensberg se Seunskoor na Gauteng gereël.

Pretoria se eerste BoekeJol en FilmRolfees, wat in Polokwane in 2013 gebore is, het gevolg en sy sien uit na 2016 se BoekeJol wat groter en lekkerder gaan wees.

“Ek hanteer tans elke Dinsdagoggend die boekbespreking op kykNET en GrootFM 90.5 se Groot Ontbyt televisieprogram soggens. Ek organiseer ook die eerste Koninkrykkonferensie wat op 4 en 5 November aangebied word. Groot sakemanne en -vroue sal daar vertel hoe hulle suksesvolle besighede op koninkryksbeginsels geskoei is.

“Louis Kruger, voormalige algemene bestuurder van die Noordelike Media Groep, is ‘n sosio-ekonoom en betrokke by die konferensie as die Casa Deo Ontwikkelingstrust. Ek reël die konferensie namens die trust.”

Dia se dagboek is reeds tot barstens toe vol vir die volgende twee jaar. Sy begeer veral om die BoekeJol en die FilmRolfees suksesvol vanaf 18 tot 21 Augustus 2016 uit te rol.

“Dit is nou ‘n jaarlikse instelling danksy my netwerk. Ek het gedink ek trek Pretoria toe en gaan slegs opleiding doen en nooit weer ‘n projek doen nie. Dit is toe nie God se plan nie, die opleidingsdeure is nog toe. Ek wil graag so bietjie radiowerk begin doen, dalk die verhoog aanpak met ‘n stuk oor verhoudings, dalk meer betrokke raak agter die skerms van die Groot Ontbyt en beslis nog baie keer erkenning gee aan talentvolle akteurs, musikante, sangers en skrywers in Suid-Afrika. Ek het die afgelope amper twee jaar uitgevind dat ek nie te ver vooruit moet beplan nie, want die toekoms is nie in my hande nie. Dit maak nie die pad maklik nie, maar dit maak hom beslis opwindend,” verklap sy.

Dia doen ook vryskutwerk vir Die Erdekruik koerant en het so ook baie geleer en meer mense leer ken.

“Die lekkerste is om te weet ek maak maar ‘n baie klein spikkel in die groot plan uit. Vir ego is daar eenvoudig nie plek nie,” verseker dié talentvolle vrou.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version