Man (42) sterf toe hy gesin beskerm

In ‘n verwoede aanval waarin ‘n gesin van vier probeer het om skote op hulle huis uit alle rigtings te ontduik, is ‘n bouer van die dorp dood nadat hy tevergeefs probeer het om betyds hulp te kry.

LOUIS TRICHARDT – In ‘n verwoede aanval waarin ‘n gesin van vier probeer het om skote op hulle huis uit alle rigtings te ontduik, is ‘n bouer van die dorp dood nadat hy tevergeefs probeer het om betyds hulp te kry.

Een van die aanvallers is later aangekeer toe hulle en die Polisie in ‘n wilde skietery betrokke was. Twee vuurwapens wat vroeër vandeesweek by ‘n plaas in Louis Trichardt tydens ‘n inbraak gesteel is, is by hulle gevind.

Johan Oelofse (42), ‘n bouer, het Sondagaand met sy lewe betaal toe hy vier aanvallers probeer keer het om in sy huis op ‘n kleinhoewe buite die dorp te kom.

Melanie Denner, ‘n vriendin van die gesin, se Oelofse en sy vriendin, Miempie du Toit, het Sondagaand televisie gekyk, Du Toit se twee kinders, Wimpie (10) en Imge (16), het gaan slaap. “Kort nadat Imge haar kamerlig afgeskakel en in die bed geklim het, is ‘n skoot deur haar kamervenster geskiet.”

Du Toit en Oelofse het na die kinders se kamers gehaas terwyl die skote om hulle geklap het. “Hulle het al vier in die gang gelê – 19 vensters is stukkend geskiet,” vertel Denner. Oelofse kon sy pistool en selfoon kry en het in die rigting van die aanvallers geskiet. Hy het ‘n vriend, Marius Botha, vir hulp geskakel, asook die polisie en buurtwag.

Volgens Du Toit het die aanvallers geskree hulle gaan almal doodmaak. “Johan het ons probeer beskerm en is toe in die kop geskiet.” Daarna het Du Toit en die kinders in die gang bly lê vir ‘n lang ruk terwyl alles stil was. Die verdagtes het gevlug sonder om enigiets te vat.

Toe hulp opdaag, was Oelofse reeds dood.

Kol Ronél Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die Polisie het die aanvallers se spore agtervolg tot by in bruggie waar hulle geskuil het. ‘n Skietery het ontstaan en een verdagte is gewond en gearresteer. Die verdagte is die hospitaal onder polisiebewaking ‘n Saak van moord is geopen en verdere sake word verwag.

Oelofse laat Du Toit en haar kinders, ‘n broer, twee susters en ‘n dogter agter. Sy verrassingsdiens is Saterdag om 10:00 uit die Agape-gemeente in Louis Trichardt.

Exit mobile version