BusinessNews

Kruinie maak naam by Sanlam WOW Spelfees

Jeané Scheepers van Curro Heuwelkruin se goeie spelvermoë is te danke aan die feit dat sy so graag lees en dit is geen verras­sing dat sy tydens die onlangse Sanlam WOW Spelfees by die Universiteit van Stellenbosch as nasionale graad 3-wenner gekroon is nie. Vandat sy vier jaar oud was, is sy geprikkel deur letters …

Jeané Scheepers van Curro Heuwelkruin se goeie spelvermoë is te danke aan die feit dat sy so graag lees en dit is geen verras­sing dat sy tydens die onlangse Sanlam WOW Spelfees by die Universiteit van Stellenbosch as nasionale graad 3-wenner gekroon is nie.
Vandat sy vier jaar oud was, is sy geprikkel deur letters en woorde en sy het van ‘n baie jong ouderdom af reeds vlot gelees.
“Sy lees alles wat voorkom, selfs inligtingsborde op straat en instruksieboe­kies. Sy verslind die leesboeke wat sy by die skool kry en is verlede maand ingelig dat daar nie meer baie boeke by die skool oor is wat sy nog nie gelees het nie. Jeané is ook ‘n baie entoesiastiese lid van die Polokwane Biblioteek en lees ook veral niefiksieboeke,’ sê haar ma, Sonja. Sy lees ewe graag in Afrikaans en Engels en volgens haar klasonderwyser, Sonette Olivier is Jeané haar persoonlike woordeboek.
Vanjaar was die derde jaar wat Jeané aan die WOW-spelfess deelgeneem het. In graad 1 is sy as naaswenner aangewys en in graad 2 het sy sewende geëindig.
Jeané het in 27 rondes telkens die woord wat aan haar toegeken is reg gespel.
Van die woorde wat sy gespel het, was restaurant, padaanwysings, beskuitjie, gewillig en liggaamsdeel.
“Nadat sy as die wenner aangekondig is, het die beoordelaars haar gevra of sy nog ‘n woord wil spel, net vir die lekker. Hulle het gevra dat sy Antarktika spel en was baie verbaas toe sy dit ook met ‘n groot glimlag op haar gesig reg gespel het,” sê Sonja.
Sy het ‘n medalje, boekprys, trofee en R1 000 kontant gewen.
Jeané gee die Here al die eer vir die talent wat Hy vir haar gegee het. Benewens lees geniet sy ook die buitelewe, stap en kampeer. Sy is van plan om volgende jaar weer aan die kompetisie deel te neem.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button