Gays en kerk: Lim stem nie ooreen

Dit wil voorkom of N.G. Kerke in Limpopo nie eensgesind is oor die onlangse omstrede besluit van die Algemene Sinode dat gaylidmate voortaan ten volle in die kerk aanvaar sal word nie.

POLOKWANE – Dit wil voorkom of N.G. Kerke in Limpopo nie eensgesind is oor die onlangse omstrede besluit van die Algemene Sinode dat gaylidmate voortaan ten volle in die kerk aanvaar sal word nie.

Terwyl N.G. predikante in Polokwane meer oopkop oor die besluit is, is sommige in ander omliggende dorpe en gebiede oënskynlik minder opgewonde oor die verwelkoming van gaylidmate.

Die gaytameletjie lê reeds lank op die Afrikaanse kerk se voorstoep en broei. Besprekings by die Algemene Sinode om gaylidmate volle lidmaatskap te gee dateer uit 2007. Op Vrydag, 9 Oktober 2015 het die sinode geskiedenis gemaak toe finaal oor verhoudings en regte van mense met dieselfde geslag besluit is.

Dit behels in kort dat alle lidmate gelykwaardig is ongeag van hulle seksuele oriëntasie en dat lidmate, ongeag of hulle hetero- of homoseksueel is, wie in hulle verhouding met persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die N.G. Kerk.

Hoewel slegs die verbintenis van een man en een vrou as ‘n huwelik beskou word, het die sinode ook erkenning gegee aan burgerlike verbintenisse van mense van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou.

Die sinode maak voorts voorsiening dat dié verbintenisse deur predikante wie hulle weg daartoe oopsien, bevestig kan word.

Review het by ds. Tjaart Meyer van die N.G. Oosgemeente gaan kers opsteek oor die sinode se opspraakwekkende besluit.

“Toe ek ‘n kind was, was daar twee ooms en een tannie in ons gemeente in Pietermaritzburg-Wes wie nooit getroud was nie. My ouers het na hulle verwys as twee oujongkêrels en ‘n oujongnooi.

“Die een oom was baie anders. Hy het snaaks met sy hande beduie en ‘n fynerige stem gehad. Hy was een van my kategete en het ‘n groot invloed op my lewe gehad. Hy was uiters getrou en het die wêreld se geduld gehad. Hy was baie toegewyd en het op die kerkraad gedien en in die kerkkoor gesing.

“Vandag, as ek terug kyk, is ek redelik oortuig die twee ooms en tannie was gay.

“Amper elke familie het iewers ‘n gay lid. Jarelange navorsing dui daarop mense kan nie hulle seksuele oriëntasie verander bloot omdat hulle wil nie. Waar hulle wel poog om dit te doen, (onder druk van die gemeenskap, familie of kerk) kan dit lei tot intense skuldgevoelens en geestelike of emosionele foltering.”

Meyer vertel voorts wanneer die wetenskap ons kennis oor die lewe verruim, kyk ons met ‘n ander bril na die Bybel.

“Die wetenskap verruim ons kennis oor die lewe. Ons hoor God se stem mos ook daar. Dan moet ons in die lig van die Skrif daarmee op ‘n verantwoordelike wyse handel.”

“Ons lees nie almal die Bybel op dieselfde manier nie. Selfs as kollegas lees ons die Skrif op verskillende maniere. Daar is diegene wie die Bybel lees en sê: ‘So staan dit daar, so lees ek dit’. Dan is daar die van ons wie sê dat ons nie die teks sonder die konteks kan lees nie. Dit beteken nie dat sommige reg en ander verkeerd is nie, maar wel dat almal elemente van die waarheid beet het, en dat ons juis saam tot ‘n beter verstaan kom.”

Maar wyl Meyer se woorde soet sal wees vir gaylidmate wie lank reeds honger na erkenning in die N.G. Kerk, word hulle nuwe gelyke status nie elders in die provinsie met dieselfde geesdrif ontvang nie.

Die Uitgebreide Ringkommissie van die Ring van Louis Trichardt het reeds die besluit van die Algemene Sinode verwerp. Dié ring bly by die standpunt die enigste geloofsoortuiging waaraan gelowiges gebind kan wees is dat homoseksuele verbintenisse sonde is.

Die Algemene Sinode het tydens sy onlangse besluit ook bepaal die gelyke regte aan gaylidmate geld nie vir die Sinode van Namibië nie, omdat die Namibiese landswette nie vir verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag voorsiening maak nie.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

 

Exit mobile version