Mokopane bejaardes beseer in fratsongeluk

Leon du Toit (75) en sy vrou, Lilly (74), was in 'n fratsongeluk betrokke wat ongeveer 2 km voor die Zebediela-tolhek gebeur het Saterdagmiddag.

MOKOPANE – Leon du Toit (75) en sy vrou, Lilly (74), was in ‘n fratsongeluk betrokke wat ongeveer 2 km voor die Zebediela-tolhek gebeur het Saterdagmiddag.

Leon het met Bosveld oor die ongeluk gesels. “Ons was oppad terug van Polokwane toe die bestuurder van ‘n lykswa voor my ingedraai het in ‘n poging om die afdraai na die R101 te neem. Alles het so vinnig gebeur en ek kon nie uitswaai of betyds rem nie.”

Bosveld was van die eerste mense op die toneel en het dadelik die plaaslike verkeersdepartement, Mokopane Polisie en Special Operations Solutions (SOS) gekontak en binne 10 minute was die nooddienste op die toneel.

Lilly is dadelik na die Mokopane Hospitaal gejaag, terwyl die nooddienste die meganiese kake moes gebruik om Leon uit die wrak te kry.

Die bejaarde egpaar sterk tans in die Mokopane Hospitaal aan. Leon vertel hy sal op 2 November in beide sy knieë geopereer word.

Een van die beamptes op die toneel, wie anoniem wil bly, sê na bewering het die bestuurder van die lykswa ‘n kans gewaag en voor Leon se kar ingedraai, waar die twee voertuie toe kop aan kop tot stilstand gekom het.

‘n Derde voertuig, ‘n luikrugmotor, oppad na Polokwane kon nie betyds uitswaai nie en het aan die agterkant van die lykswa vasgery.

“Die bestuurder van die lykswa, Morris Matonsi, is ook na die Mokopane Hospitaal gejaag vir behandeling. Die bestuurder van die luikrug is egter nie beseer nie.”

Kagiso Mootane, departementele woordvoerder van die Departement van Vervoer, het Dinsdag aan Bosveld gesê ‘n deeglike ondersoek duur voort.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version