Bosveld NewsLocal NewsNews

Hart kan jou geldsake belemmer, sê René

Navorsing toon ons leefstyl veroorsaak dat jonger mense nou meer vatbaar is vir hartsiektes as hulle jaargenote van die afgelope paar dekades.

MOKOPANE – Hartsiektes is die tweede grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika volgens navorsing van die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika.

Afgesien van die gesondheidsrisiko, hou hartsiektes ook beduidende finansiële risiko’s in.

Die rede, sê René Hartman van Sanlam, is dat die koste van hartsiektes nie beperk is tot die prys van behandeling wat mense ná ‘n hartaanval of hartchirurgie nodig het nie. “Hartsiektes verg dikwels ook bykomende behandeling, waarvan ‘n mediese skema dalk slegs ‘n deel sal betaal. Boonop kan dit beteken dat pasiënte ‘n lang tyd nie kan werk nie, wat ‘n ernstige uitwerking kan hê op hul vermoë om ‘n inkomste te verdien – en dan is daar nog die koste van rehabilitasie en terapie voordat hulle weer kan begin werk.”

Die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika sê meer Suid-Afrikaners sterf aan kardiovaskulêre siektes as aan alle tipes kanker saam. Die stigting het voorheen geraam dat voortydige sterftes (mense in die ouderdomsgroep 35 tot 64 jaar) weens hartsiektes met 41% gaan toeneem tussen 2000 en 2030.

Navorsing toon ons leefstyl veroorsaak dat jonger mense nou meer vatbaar is vir hartsiektes as hulle jaargenote van die afgelope paar dekades. Ironies genoeg, is jong aktiewe persone dikwels oortuig dat hulle nie gevaar loop om hartsiektes te kry nie, en is hulle nie genoeg bewus van die impak wat stres en ander faktore op hul gesondheid kan hê nie.

Dr. Jack van Zyl, mediese adviseur by Sanlam, weerlê van die algemeenste mites rondom hartsiektes:

Ek is te jonk om my oor hartsiektes te bekommer.

Feit: Jou huidige leefstyl het ‘n invloed op jou toekomstige gesondheid. Plaak kan reeds vanaf jou kinder- of tienerjare in jou are opbou en later tot hartsiektes lei.

Raad: Kweek eerder vroeër as later gesonde gewoontes aan.

Ek gaan gereeld gim toe daarom sal ek nie hartsiektes kry nie.

Feit: Faktore soos ‘n ongesonde dieet, rook en cholesterol kan jou ander gesonde gewoontes teenwerk.

Raad: Bly gesond deur in alle opsigte ‘n gesonde benadering te volg. Hou jou bloeddruk en cholesterolvlak dop.

Ja, ek het werkstres maar dit affekteer nie my hart nie.

Feit: Akute stres en langdurige angs en kwellings wat nie opgelos word nie, kan jou aan die risiko van hartsiekte of hipertensie blootstel.

Raad: Leer goeie stresverligtingstegnieke aan – dit help om hartsiektes te voorkom.

Hartsiektes raak elke persoon, en daarom moet ons almal streef om ons leefstyl te verbeter, terwyl ons rekening hou met die finansiële risiko’s wat met hartsiektes gepaardgaan. Dit is uiters belangrik om jou verdienvermoë te beskerm ingeval jy siek of arbeidsongeskik raak – veral wanneer jy jonk is en finansiële afhanklikes het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button