Editor's choiceLocal NewsNews

Kollig weereens gerig op vuurwapenveiligheid

Die gevare en belangrikheid rondom die veilige bewaring van vuurwapens het sowat 'n week gelede weer aan die lig gekom.

POLOKWANE – Die gevare en belangrikheid rondom die veilige bewaring van vuurwapens het sowat ‘n week gelede weer aan die lig gekom.

Dit was ‘n besprekingspunt by die jaarlikse gemeenskapspolisiëringforum (GPF) vergadering by die Polokwane polisiestasie. Tydens die vergadering het die stasiebevelvoerder, brig. Sam Mokgonyana, dit beklemtoon nadat daar nie minder as vier gevalle was waar klagtes ingedien is dat vuurwapens gesteel is in die eerste week van die maand nie.

“Jou vuurwapenlisensie is die begin van verantwoordelike wapenbesit,” sê Mokgonyana.

Kapt. Ntobeng Phala, woordvoerder van die Polokwane polisie, het ook die situasie aangespreek.

“Op die agterkant van ‘n vuurwapenlisensie is daar ‘n stel reëls en regulasies. Byvoorbeeld dat ‘n vuurwapen ten alle tye op een van twee plekke weggebêre moet wees: óf in ‘n kluis wat gesluit is óf aan die persoon van die lisensiehouer.”

Volgens Phala moet die kluissleutel in die besit van die lisensiehouer wees wanneer die vuurwapen in die kluis is. Hy sê geen vuurwapen mag onder ‘n kopkussing, of in ‘n voertuig se kattebak of paneelkissie gebêre word nie en hierdie reël geld ook vir ammunisie.

‘n Saak van nalatigheid kan teen jou ingedien word indien dié reëls verontagsaam word en dit kan, volgens die polisie, ook die verskil maak in ‘n saak waar die vuurwapen gebruik is vir selfverdediging.

Phala sê die regte bestuur van ‘n vuurwapen kan ook voorkom dat mense aan die verkeerde kant van die gereg beland. Volgens Phala kan jy lewenslank onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapenlisensie te bekom wanneer ‘n vuurwapen verkeerd gebruik of hanteer word.

“Indien ‘n vuurwapen nie gereeld gebruik word nie moet dit by die polisie-kantoor aangemeld en ingehandig word. In so ‘n geval kan daar krediet aan die persoon toegestaan word wat in sy guns sal tel as hy of sy in die toekoms weer wil aansoek doen vir ‘n vuurwapenlisensie,” sê Phala.

In geval van ‘n familielid wie die lisensiehouer was se afsterwe, kan die naasbestaandes die polisie kontak en reëlings tref dat die vuurwapen deur die polisie afgehaal word. Geen familielid mag die vuurwapen vervoer as hulle nie die wettige lisensiehouer is nie. Die nodige dokumentasie sal deur die polisiebeamptes wie die vuurwapen afhaal voorsien word.

“Die publiek moet onthou dat wanneer hulle onverskillig met ‘n vuurwapen te werk gaan, hulle die res van die samelewing se lewens in gevaar stel. Vuurwapens wat misdadigers op een of ander wyse bekom word in aanvalle en rooftogte gebruik en mense verloor hul lewens,” waarsku Phala.

Jy kan jou vuurwapen inhandig by die polisiekantoor op die hoek van Bodenstein- en Hans van Rensburgstraat. Alternatiewelik, skakel (015) 290 6577 vir meer inligting.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button