Help Hekkie in kankerstryd

Hendrik Grobler (Hekkie) is in Maart met leukemie (bloedkanker) gediagnoseer en sedertdien veg hy dapper teen die siekte voort.

MOKOPANE – Diegene wie weet sê soms woon superhelde wie groot siektes moet beveg in die harte van kinders.

In Hekkie Grobler (12) se geval is Jesus sy superheld en daarom veg hy dapper voort, vertel Malie Janssens, ‘n getroue vriendin van die Grobler-gesin, met ‘n warm glimlag aan Bosveld.

Hendrik Grobler (Hekkie) is in Maart met leukemie (bloedkanker) gediagnoseer en sedertdien veg hy dapper teen die siekte voort.

Hekkie is ‘n lewenslustige en vrolike kind wie nie bang is vir uitdagings nie. Hy is tans in die Unitas Hospitaal in Pretoria nadat sy broer, Kobus (10), verlede week van sy beenmurg aan Hekkie geskenk het.

Kobus is reeds terug by die skool en almal is vreeslik trots op hom. Kobus is ook in sy noppies oor die ambassadeursknopie van dapperheid waarmee Laerskool Krugerpark hom beloon het.

Met Hekkie gaan dit onder omstandighede goed en hy veg daagliks teen die naarheid, koors en pyn. Janssens sê wanneer kanker in ‘n geliefde se lewe insluip voel jy magteloos en woorde voel leeg.

“Ek het daarom besluit om in te gryp en die gemeenskap te nooi om Saterdag, 24 Oktober te kom deel in die pret en plesier van ‘n familiedag by La Bamba in Hoogestraat 92.

Dit is ‘n fondsinsamelingpoging om Hekkie se groot mediese koste te dek. Die oorplanting alleen beloop al oor die R500 000 en ek weet as ons as ‘n gemeenskap saam staan kan ons sy gesin se finansiële las verlig,” sê Janssens vasberade.

Die familiedag beloof om jonk en oud te vermaak en skop om 10:00 af met ‘n verskeidenheid stalletjies, ‘n motorfietssaamtrek, springkastele, ‘n nar, musiekvertonings en vele meer.

Daar is ook groot pryse op die spel en ‘n pragtige versamelaarskildery vir rugbygeesdriftiges gaan opgeveil word. Die toegangsfooi is slegs R20 vir volwassenes en R10 vir skoolgaande kinders.

Diegene wie belangstel om ‘n stalletjie te beman of betrokke te raak, kontak Janssens by 078 329 7134.

Es-Marie Grobler bedank die gemeenskap vir hulle ondersteuning en liefde vir haar seun tot dusver.

Bosveld vra ons lesers om die dag ten bate van ‘n dapper jong seun wie die gawe van oudword wil beleef te ondersteun.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version