Local NewsNews

Woonstelkompleksdak deur wind afgeruk

Die hittegolf wat die stad oor afgelope week in ‘n knelgreep gehad het, is gisteraand deur ‘n hewige reënbui gebreek, maar ernstige skade is aan die Tulipark-woonstelkompleks in Ladanna aangerig toe winde van stormsterkte ‘n gedeelte van die gebou se dak afgeruk het. Die kompleks dien hoofsaaklik as huisvesting vir polisiebeamptes en die inwoners het …

Byron Mulaudzi probeer water wat van die boonste verdieping instroom, opdroog.
Byron Mulaudzi probeer water wat van die boonste verdieping instroom, opdroog.

Die hittegolf wat die stad oor afgelope week in ‘n knelgreep gehad het, is gisteraand deur ‘n hewige reënbui gebreek, maar ernstige skade is aan die Tulipark-woonstelkompleks in Ladanna aangerig toe winde van stormsterkte ‘n gedeelte van die gebou se dak afgeruk het.
Die kompleks dien hoofsaaklik as huisvesting vir polisiebeamptes en die inwoners het net na 20:00 begin skarrel om hul besittings teen reënskade te beskerm.
Inwoners van minstens vier woonstelle het vanoggend (Donderdag) steeds gespartel om water wat vanaf die boonste verdieping instroom, op te droog. Water loop teen die mure af en stroom by liginstallasies in. In een van die woonstelle was meubels en televisiestelle hoofsaaklik in die eetkamer gestapel om verdere skade te verhoed. In ander het inwoners hul kombuise en motorhuise as noodpakplek gebruik.
“Ons het gisteraand in die kombuis geslaap terwyl ons meubels in die eetkamer gestoor word. Ons weet nie wat om te doen nie en hoop maar die betrokke departemente sal die probleem vinnig oplos,” sê een van die inwoners wat verkies om anoniem te bly.
Nog ‘n inwoner, Byron Mulaudzi, sê hy het gereeld deur die nag opgestaan om water op te droog voordat dit by die kombuis inloop.
“Ek het net na 20:00 ‘n slag gehoor. Ek het by die venster uitgekyk en gesien ek hoe die sinkplate deur die wind afgeruk en in die straat en teen die heining geslinger word,” sê Mulaudzi.
Hy sê daar is niks wat hulle as inwoners aan die saak kan doen nie. “Ons probeer net om soveel as moontlik van ons besittings van waterskade te red. Die meerderheid inwoners het hulle besittings in hul kombuise of motorhuise gestoor,” sê hy.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê herstelwerk aan die gebou is nie die polisie se verantwoordelikheid nie, maar wel die van die departement van openbare werke.
Woordvoerder van die departement, Paena Galane kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Die dak van vier woonstelle in Tulistraat, Ladanna, is deur sterk wind afgeruk.

Water stroom deur liginstallasies.
Water stroom deur liginstallasies.
Die plafon gaan moontlik intuimel omdat dit al dakbedekking is wat reënwater uit die die Tulipark-woonstel hou.
Die plafon gaan moontlik intuimel omdat dit al dakbedekking is wat reënwater uit die die Tulipark-woonstel hou.
Besitting word gestoor om waterskade te verhoed.
Besitting word gestoor om waterskade te verhoed.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button