Lyke in twee damme gevind

Terwyl familie steeds die dood van die jong seun van Westenburg wie se liggaam verlede week in die Blydedam gevind is verwerk, het die polisie nog twee lyke uit nabygeleë damme gehaal. Die lyk van ‘n onbekende man is Saterdag­oggend uit die Floraparkdam gehaal terwyl die polisie in Haenertsburg hulp soek om die liggaam van …

Terwyl familie steeds die dood van die jong seun van Westenburg wie se liggaam verlede week in die Blydedam gevind is verwerk, het die polisie nog twee lyke uit nabygeleë damme gehaal.
Die lyk van ‘n onbekende man is Saterdag­oggend uit die Floraparkdam gehaal terwyl die polisie in Haenertsburg hulp soek om die liggaam van ‘n jong seun wat verlede week in die Ebenezerdam met ‘n golfbal en toiletpapier in sy mond gevind is, te identifiseer.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto het gesê die seun is tussen 13 en 14 jaar oud en hulle vermoed die liggaam was ongeveer twee dae in die dam voordat ‘n grondeienaar die lyk opgemerk het.
Intussen is laataandpartytjies en rumoer deur dronkaards kenmerkend van die Floraparkdam en inwoners van die omgewing hoop dat die polisie sal ingryp om die dam en park te beveilig nadat ‘n man vermoedelik Vrydagaand vermoor en sy lyk in die dam gevind is.
Die lyk van ‘n onbekende man tussen die ouderdom van 25 en 30 is Saterdagoggend in die Floraparkdam gevind.
Verbygangers het die polisie glo ingelig van die man se lyk wat in die dam dryf.
“Hy het met sy gesig na onder in die water gelê. Na inspeksie van die lyk deur die polisie op die toneel het dit aan die lig gekom dat die man ‘n wond aan sy voorkop het. Bloed is ook op die oewer gevind,” sê Polokwane polisie-kommunikasiehoof, Ntobeng Phala.
Hy sê die man het ‘n gestreepte blou T-hemp, blou denim en swart skoene aangehad. Sy een skoen is glo soek.
“Ons het ‘n moorddossier geopen. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie en geen arrestasie is gemaak nie,” sê Phala.
Polokwane Observer het in die verlede oor vermoedelike dwelmhandel en alkoholgebruik by die dam, veral oor naweke, berig.
‘n Inwoner, wat verkies om anoniem te bly, omdat hy naby die dam woon en vir sy veiligheid vrees, sê benewens die dronkaards wat harde musiek uit hul motors speel en in die strate op en af jaag, is die gemors wat hulle agterlaat die ergste.
“Bierbottels lê die hele park vol en selfs gebruikte kondome lê oop en bloot rond. Geen mens kan met sy kind soontoe gaan om die natuurskoon te geniet nie. Noudat iemand vermoor is, gaan die polisie hopelik iets doen omtrent die klomp wat naweke hier moeilikheid maak,” sê die inwoner.
Enigiemand met informasie wat tot die arrestasie van die skuldige kan lei, kan die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Kotze by 082 744 8205 of die misdaadnommer 015 290 6604/5 skakel.

Storie;l RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version