Gee Kersvreugde met ‘n skoenboks

Bosveld spoor ons lesers aan om hierdie jaar een van 214 kinders se Kersfees onvergeetlik te maak deur deel te vorm van die liefdadigheidsprojek Santa Shoebox.

MOKOPANE – Bosveld spoor ons lesers aan om hierdie jaar een van 214 kinders se Kersfees onvergeetlik te maak deur deel te vorm van die liefdadigheidsprojek Santa Shoebox.

Die inspirerende projek, wat al in sy negende jaar is, bring elke jaar duisende mense bymekaar met die gesamentlike doel om die lewens van minder bevoorregte kinders te verryk deur die skenking van “skoenbokse van vreugde” oor die Kerstyd.

Volgens Ansa Smit en Claudette Jugmohan, organiseerders van die projek in Mokopane, is daar 214 kinderharte in en om die dorp wie die seën van ‘n Santa Shoebox verdien.

Binne in die geskenkbokse is basiese benodighede en ‘n klein bederfie.

“Ons is dankbaar vir die 65 skoenbokse wat reeds ingesamel is, maar benodig nog 149 en ons weet met die hulp van die goedhartige mense van Mokopane kan ons elkeen van hierdie kinders se wense waar maak.”

Vanjaar se tema Gee vir Goed beklemtoon die projek se filosofie, naamlik “deel in die vreugde van gee”.

Die projek verryk nie net die lewens van die kinders wie die geskenke ontvang nie, maar beloof om vir die skenkers ook ‘n besondere ervaring te wees.

Skenkers kan aanlyn registreer vir een of meer Santa-skoenboks(e)by www.santashoebox.org.za onder die Mokopane tak.

Elke skenker kan die naam en ouderdom kies van die kind vir wie hy of sy die geskenk wil koop. Die boks word dan volgens die riglyne op Santa Shoebox se webtuiste volgemaak met gepaste items vir die spesifieke ouderdomsgroep. Die skenker pak en versier die boks wat op 30 en 31 Oktober by die Honey Ball Villa ingehandig kan word.

Vir meer inligting kontak Ansa Smit by 083 272 2196 of vir Claudette Jugmohan by 082 883 4938.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version