Noordskool neem regstappe na ontwrigting

Laerskool Pietersburg-Noord Primary se beheerliggaam het vroeër vandag (Vrydag) tydens ‘n vergadering besluit dat regstappe verseker teen die persone wat vir gister (Donderdag) se ontwrigting verantwoordelik was, geneem sal word. ‘n Bron by die skool het kort na die vergadering gesê ‘n bus met ongeveer 40 leerders, ouers en lede van die beheerliggaam van ‘n …

Laerskool Pietersburg-Noord Primary se beheerliggaam het vroeër vandag (Vrydag) tydens ‘n vergadering besluit dat regstappe verseker teen die persone wat vir gister (Donderdag) se ontwrigting verantwoordelik was, geneem sal word.
‘n Bron by die skool het kort na die vergadering gesê ‘n bus met ongeveer 40 leerders, ouers en lede van die beheerliggaam van ‘n skool in Seshego het omstreeks 12:30 voor die skool gestop. “Ons het eers niks vermoed nie omdat busse gereeld voor die skool in Biccardstraat stop, veral wanneer daar betogings by die onderwysdepartement etlike meter van die skoolterrein af is. Die volgende oomblik het die mense die skoolgebou ingestorm en stoele en tafels begin ronddra en omkeer. Vyf wit leerders is glo in die proses beseer. Hulle is onder meer in die maag en gesig geslaan en van stoele afgestamp,” sê die bron.
Die vermeende aanhitser en voorbok van die aksie het glo aan die hoof, Attie Visagie gesê: “Ons ontwrig jou skool omdat jy wit is.” ‘n Vrou onder die klomp booswigte het glo ook gesê hulle soek die LUR se dogter.” Onderwysers het ingegryp om die leerders te beskerm waarna die moeilikheidmakers binne minute die skoolterrein verlaat het.
“Wie gee ander skole wat nie funksioneer nie, die reg om funksionerende skole te ontwrig? Sulke aksies moet gestop word en ons sal geregtelik optree teen die verantwoordelike mense,” sê Visagie. Hy sê dat die aksie niks anders as barbaars, intimidasie en viktimisasie is nie. “Ons het nie geskrik nie, ons is nou net kwaad gemaak. Ek het ook nie genoeg handboeke en sitplek vir leerders nie, maar ek maak ‘n plan deur handboeke af te rol. Ek stuur nie my leerders na ander skole om te plunder net omdat hulle meer as ons het nie,” sê Visagie.
Leerders sal Maandag berading ontvang.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto het die voorval bevestig en gesê leerders en ouers van ‘n skool in Seshego het Noordskool binne gestorm, tafels en stoele rondgegooi en klasse ontwrig. “Toe die polisie op die toneel opdaag was die booswigte reeds weg en alles by die skool terug na normaal. Geen beserings is aangemeld nie en nog geen formele klag is by die polisie gelê nie,” sê Otto.
Die provinsiale polisiekommissaris, Fannie Masemola het sy skok oor die gebeure uitgespreek en gesê sulke aksies sal nie in die provinsie geduld word nie. “Die veiligheid van kinders is prioriteit vir die polisie, veral op die skoolgrond waar leerders veronderstel is om veilig te voel. Mense wat hulle aan sulke aksies skuldig maak, sal voor stok gebring word. Ons sal saam met Noordskool werk om die booswigte te vervolg en wil ouers verseker dat hul kinders veilig is,” sê Masemola.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version