Haar lewe vir ‘n tabletrekenaar

Die Louis Trichardt polisie vra dat die gemeenskap saamwerk om enige inligting by die polisiestasie aan te meld.

LOUIS TRICHARDT -“Sy was ‘n liefdevolle mens, saggeaard en ‘n mens wat omgegee het.”

Dié woorde van ‘n jarelange vriendin van Maggie Castleman, Magrietha Cachia… “ons is almal stomgeslaan en ons harte is baie seer.”
“Sy het eerder gegee as ontvang. Haar lewe het bestaan uit haar liefde vir die Here en haar naaste.
“Sy was ‘n mens wat eerder vergeet en vergewe het. As ek aan haar dink is dit haar borrellende lag wat ek eerste hoor,” sê Cachia. 

Castleman (48) is Saterdagaand noodlottig gewond. Die skietvoorval het voor die perseel van Gouws Auctioneers in Louis Trichardt waar Castleman werksaam was plaasgevind.
Saterdagaand het die Gouws-gesin en vriende by hulle huis, op dieselfde perseel as Gouws Auctioneers, gebraai. Hulle het ‘n klapgeluid gehoor en is na buite om ondersoek in te stel. Hulle het niks gesien nie en het weer teruggekeer na die braai.
Nadat die vriende huistoe is, het Gouws besluit om ondersoek in te stel na die klapgeluid en hy het om die blok gery. Hy het Castleman se voertuig gewaar en dadelik onraad vermoed toe hy Castleman langs haar motor sien lê.
“Ons het gestop en na haar geloop, sy het nog asemgehaal toe ons by haar kom,” sê Gouws.
Gouws het onmiddellik die polisie en die nooddienste ontbied.
Volgens kol. Ronél Otto, die provinsiale polisiewoordvoerder, is ‘n tabletrekenaar soek.

Konst. Irene Radzilane, Louis Trichardt polisiewoordvoerder, het bevestig hulle ondersoek die saak.
“Die polisie het Maggie Castleman omstreeks 18:30 langs haar voertuig in Presidentstraat gekry met ‘n skietwond aan haar regterskouer. Sy was reeds oorlede. Die deur van haar voertuig was oop. Nog geen arrestasies is gemaak nie. Die Louis Trichardt polisie vra dat die gemeenskap saamwerk om enige inligting by die polisiestasie aan te meld by (015) 519 4300.
Castleman laat haar dogter Jennifer Classen, haar twee susters, Lorraine Robinson en Charmaine Castleman en haar ouers Joseph Castleman en ma Linda Nel agter. Teen druktyd was Castleman se begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.

Lees meer:

Moord nog ‘n raaisel

Exit mobile version