Local NewsNews

Plaasaanvallers teiken Tzaneen en omgewing

‘n Vlaag van plaasaanvalle het die afgelope weke in die Tzaneen-omgewing voorgekom. Volgens ‘n mediavrystelling van AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, Ian Cameron het plaasaanvallers Maandagoggend ‘n kind gebruik om hulle deur die huis wat hulle beroof het, te begelei tydens ‘n plaasaanval in George’s Valley. Cameron sê die verdagtes het met die slagoffers se …

‘n Vlaag van plaasaanvalle het die afgelope weke in die Tzaneen-omgewing voorgekom.
Volgens ‘n mediavrystelling van AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, Ian Cameron het plaasaanvallers Maandagoggend ‘n kind gebruik om hulle deur die huis wat hulle beroof het, te begelei tydens ‘n plaasaanval in George’s Valley.
Cameron sê die verdagtes het met die slagoffers se voertuig gevlug en hulle is tot in Polokwane deur boere van die omgewing agtervolg, waar die polisie na bewering op die verdagtes losgebrand het. Die verdagtes het te voet verder gevlug.
Cameron sê AfriForum doen ‘n beroep op ouers om met hulle kinders te gesels oor plaasaanvalle en meen dat hulle moet weet presies wat om te doen om hulself en hulle gesinslede te beskerm. Volgens Cameron word kinders dikwels deur aanvallers vir onderhandeling gebruik of om hulle aanvallers te begelei.
Letsitele-aanval
Volgens die organisasie was daar ook Sondag ‘n plaasaanval by Letsitele, waar ‘n boer een van die aanvallers na bewering met ‘n haelgeweer doodgeskiet het. Die rower het vermoedelik ‘n elektriese heining geknip om toegang tot die plaas te kry. Hy het glo by ‘n venster probeer inkom deur die diefwering oop te buig.
Op 1 September het drie vermeende plaasaanvallers op ‘n plaas sowat tien kilometer vanaf Tzaneen toegeslaan waar ‘n 17-jarige dogter en haar ma alleen tuis was.
Veiligheidskameras wys hoe die meisie met ‘n haelgeweer gewapen uitgaan om te kyk waarom die hond blaf en verby ‘n vermeende aanvaller loop.
Dit wys ook hoe die aanvallers in ‘n waskamer skuiling soek. Die meisie het terug na die huis gegaan, die sekuriteitshek gesluit en haar pa geskakel. Die vermeende aanvallers het gevlug, vermoedelik toe hulle die pa hoor aankom het.
Op 25 Augustus het Brigadier Thomas Shingange, Tzaneen Polisie se sektorbevelvoerder, die implimentering van die Landelike Beveiligingstrategie in die Tzaneengebied bekendgestel.
“Agri Limpopo en al sy lede ondersteun die inisiatief ten volle. Sedert hierdie aankondiging het misdaad op plase egter geweldig toegeneem.
“Ons doen ’n beroep op boere om aktief in te skakel by plaaslike beveiligingstrukture. Die polisie se sigbaarheid in die landelike gebied sal moet verhoog,” het Pieter Vorster, voorsitter van die Letaba Distrikslandbou-unie en visiepresident van Agri Limpopo bygevoeg.
Vorster meen ook dat die platteland onder al groter misdaaddruk is soos wat ekonomiese omstandighede in die land verswak.

Storie: NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button