Paint Pot vier 10 jaar in Polokwane

Paint Pot het oor die afgelope 26 jaar deel geraak van die Limpopo-sakelandskap. Hierdie familiebesigheid wat in 1989 deur Chris en Lana Muller in Tzaneen begin is, het deur die jare merkwaardig uitgebrei en spog tans met drie winkels. Behalwe vir die winkel in Tzaneen, besit die Muller-familie ook ‘n Paint Pot in Giyani wat …

Paint Pot het oor die afgelope 26 jaar deel geraak van die Limpopo-sakelandskap.
Hierdie familiebesigheid wat in 1989 deur Chris en Lana Muller in Tzaneen begin is, het deur die jare merkwaardig uitgebrei en spog tans met drie winkels. Behalwe vir die winkel in Tzaneen, besit die Muller-familie ook ‘n Paint Pot in Giyani wat 13 jaar oud is, en een in Polokwane.
Paint Pot Polokwane het verlede week twee groot gebeurtenisse gevier; ‘n splinternuwe adres en 10 jaar se sukses in die stad. ‘n Springkasteel, heerlike boereworsrolle en op-en-wakker musiek het Vrydag en Saterdag vir ‘n feestelike atmosfeer by die winkel gesorg.
Anton Muller het intussen die leisels by sy ouers oorgeneem en sê Paint Pot het deur die jare floreer weens twee faktore; kwaliteitdiens en -produkte asook betrokkenheid by die gemeenskap.
Hy verduidelik dat die Chris Muller Gholftoernooi jaarliks in Tzaneen aangebied word en dat die opbrengs aan die plaaslike sakekamer geskenk word wat weer die geld tot die gemeenskap se voordeel aanwend.
Paint Pot Polokwane het hul motorverf­reeks aansienlik uitgebrei met produkreekse soos Kapci en Luxor. Die winkel het ook ‘n wye verskeidenheid paneelkloppergereedskap in voorraad.
Benewens die motorverfreeks, het
Paint Pot ook nou ‘n uitge­breide reeks kunsbenodigdhede op die rakke. Hulle verkoop olie-, akriel-, materiaal- en waterverf asook items soos skilderdoeke, esels, kunsstelletjies vir die jongspan, en kwaste wat in elke kunstenaar se smaak sal val.
Paint Pot se kunsreeks sluit die produkte van Dala en Windsor Newton in.
Hulle sal na verwagting ook eersdaags kunsklasse vir oud en jonk onder leiding van plaaslike kunstenaar, Antoinette Schreuder by die winkel aanbied. Vir meer inligting oor hierdie klasse kan belangstellendes 015 292 6196/7 skakel. Sandra Muller, Anton se vrou en regterhand en kunstenaar in eie reg, sê die Dala-reeks is ideaal vir kunsstudente omdat dit ‘n dik verf met ‘n sterk pigment is. “’n Bietjie gaan baie ver en dis ook nie buitensporig duur nie,” verduidelik sy.
Paint Pot is die amptelike verspreiders vir Prominent Paints en die Dala-reeks in Limpopo.
Die Mullers het hul werknemers en kliënte in Polokwane vir 10 jaar se ongeëwenaarde lojaliteit en ondersteuning bedank.
“Sonder hierdie mense sou geen van ons mylpale moontlik gewees het nie. Ons sien uit na nog ‘n dekade se samewerking en vriendskap in Polokwane,” sê Anton.
Besoek Paint Pot Polokwane op die hoek van Nikkel- en Kobaltstraat, regoor die Poskantoor, in Nirvana.

MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Paint Pot Polokwane se bestuurspan is mede-eienaar, Sandra Muller voor. In die middel is mede-eienaar Anton Muller, en administratiewe bestuurder, Raaitjie Kilian. Agter is assistentbestuurder, Casper Roberts en winkelbestuurder, Raymond Reed.
Paint Pot Polokwane het die volledige Dala-reeks in voorraad.
Exit mobile version