Local NewsNews

Inwoners vlug paniekbevange uit brandende huis

Die eienaars van ‘n huis in Peninapark kan hulself gelukkig ag dat hulle leef nadat hul huis Dinsdagaand bykans afgebrand het. ‘n Familielid, wat verkies om anoniem te bly het aan Polokwane Observer vertel dat hulle vermoed die brand het as gevolg van ‘n gaslekkasie êrens in die huis ontstaan. Die inwoners, wat ook anoniem …

Die brandweer het die brandende huis vergeefs probeer red.
Die brandweer het die brandende huis vergeefs probeer red.

Die eienaars van ‘n huis in Peninapark kan hulself gelukkig ag dat hulle leef nadat hul huis Dinsdagaand bykans afgebrand het.
‘n Familielid, wat verkies om anoniem te bly het aan Polokwane Observer vertel dat hulle vermoed die brand het as gevolg van ‘n gaslekkasie êrens in die huis ontstaan. Die inwoners, wat ook anoniem wil bly, is glo erg getraumatiseer. Hulle kon slegs hul voertuie red en het al hul besittings verloor.
Volgens ‘n buurvrou en ooggetuie op die toneel, Irene Duvenhage, het sy om ongeveer 22:00 sirenes gehoor.
“Ek en my seun se verloofde het ondersoek gaan instel en die rook gesien. Ons het aanvanklik gedink dat dit die veld naby ons huis is wat brand. Ek het in die rigting van die huis begin loop en die vlamme gesien. Die brandweer het die huis vergeefs probeer red, want die brand het reeds deur die huis versprei teen die tyd wat ek op die toneel aangekom het,” verduidelik sy.
Die brandweer kon daarin slaag om die vlamme te blus voordat dit na die motorhuis versprei het.
Die eienaars het gisteroggend (Woensdag) na die gebrande huis teruggekeer om te kyk of daar ‘n paar items te red is.
Die man het gisteroggend by die ver­skroeide huis gesê dat hy sy bril verloor het waarsonder hy hulpeloos is. Geen beserings is aangemeld nie.

Storie: LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button