Local NewsNews

Finansiële steun vir Andre Horn se behandeling stroom in

Op sewejarige ouderdom het Andre Horn al besef dat hy petrol in sy are het toe hy saam met sy gesin na Polokwane verhuis het. Hoewel hy te jonk was om self deel te neem, was hy ‘n lojale ondersteuner van resiesgeleenthede by die plaaslike ovaalbaan. Die einste sport se medeklublede, vriende en familie is …

Op sewejarige ouderdom het Andre Horn al besef dat hy petrol in sy are het toe hy saam met sy gesin na Polokwane verhuis het. Hoewel hy te jonk was om self deel te neem, was hy ‘n lojale ondersteuner van resiesgeleenthede by die plaaslike ovaalbaan.
Die einste sport se medeklublede, vriende en familie is besig om mee te werk om Horn te help met sy behandeling nadat hy met kanker gediagnoseer is.
In Januarie vanjaar het hy begin sukkel met aanhoudende maagpyn waarna hy vir ‘n maagseer en gastritis behandel is. Na maande se behandeling het ‘n gastroloog in Pretoria na ‘n skandering bevind dat ‘n verstopte aar die bloedtoevoer na sy pankreas belemmer. Kolle is op die pankreas gekry en die biopsie het gewys dat dit pankreaskanker is.
Horn is op 11 Augustus geopereer waarna die spesialiste bevind het dat dit te gevaarlik is om die kanker te verwyder omdat dit aan die hoofaar wat die lewer voed vasgegroei het. Kolle is ook op die lewer gekry en ‘n verdere biopsie het getoon dat die limfkliere ook aangetas is en dat die kanker inderdaad versprei het.
Hy het ‘n plaaslike onkoloog gaan spreek, wat ses sessies chemoterapie en bestraling vir vyf weke behels, maar die mediese fonds waaraan Horn behoort, het hom meegedeel dat sy fondsopsie glo nie voorsiening maak vir dié behandeling nie. Horn se makelaar is tans besig om met sy mediese fonds te onderhandel.
Toe Horn en sy verloofde met wie hy binnekort in die huwelik tree, Sue-Marie Oosthuizen, in Julie die ontstellende nuus van sy mediese toestand hoor, was hulle baie geskok en was dit ‘n groot terugslag omdat die totale koste ongeveer R102 000 vir chemoterapie en ‘n verdere R100 000 vir bestraling is.
“Vriende en medeklublede het egter Saterdag ons voete onder ons uitgeslaan met die nasionale kampioenskappe by die ovaalbaan buite die stad toe ons hoor van die fonsinsamelingsaksie wat deur die plaaslike promotor, Stephan Weideman geïnisieer is.
Weideman het besluit om ‘n fonds vir Horn se kankerbehandeling, waarmee hy dringend moet begin, met behulp van ‘n prokureur te stig omdat hul vriende en klublede saamstaan. Hy het aanvanklik 100 plakkers laat druk wat by Saterdagaand se nasionale kampioenskappe beskikbaar gestel is. Mense, veral klublede, het ‘n donasie vir die plakker waarop Horn se gesig en ‘n pers strik vir pankreaskanker is met die woorde “Prayers and support’ gegee.
Een persoon het ‘n pakkket wat bestaan uit ‘n jagnaweek waartydens ‘n blouwildebees, koedoe en rooibok geskiet kan word, geskenk wat dieselfde aand vir R30 000 opgeveil is. ‘n Totale bedrag van R55 000 is die aand ingesamel.
Intussen het ‘n anonieme weldoener Dinsdagoggend nog R20 000 in die rekening betaal, wat die ingesamelde bedrag op
R75 000 te staan bring. Horn sal moontlik vandag (Donderdag) sy eerste behandelingsessie ondergaan. Weideman beplan om nog 100 plakkers te laat druk om vir die wyer gemeenskap en Horn se motorsportvriende landwyd geleentheid te gee om ook te help.
Horn is ‘n geliefde lid van die Polokwane-motorsportgemeenskap. In 2007 het hy aan motorsport begin deelneem en in 2010 het hy Suid-Afrikaanse status in sy klas behaal. In 2011 het hy sy resiesmotor verkoop en ‘n groot droom van hom het waar geword toe hy sy pypkar (sprint car) gekoop het. In Oktober 2014 het hy sy debuut op die 2014 Rock Raceway met die vuurwa gemaak.
Mense wat ‘n bydrae tot die fonds wil maak, kan inbetalings in die volgende rekening maak: FNB rekening, Rekeningnaam: #65 Andre Horn Fondsinsameling, Rekeningnommer 62558729863, Takkode 260226.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button