Local NewsNews

Diereliefhebbers staan saam om ‘Tinkerbell’ te red

Alhoewel die storie 'n hartseer einde het, het die baba donkie, Tinkerbell, die dieregemeenskap bymekaar gebring om haar te help red.

POLOKWANE -Alhoewel die storie ‘n hartseer einde het, het die baba donkie, Tinkerbell,  die dieregemeenskap bymekaar gebring om haar te help red.

Die storie van diereliefde, spanwerk en hoop het Saterdagaand begin toe die jong donkie, Tinkerbell, op die Dendronpad, 30 km van Polokwane, deur ‘n motor getref en in die pad gelos is.

Adele Heinlein van Lost and Found Little Friends was op pad om haar vriende te gaan help toe sy die donkie in die pad gesien het.

Volgens haar het die donkie hulpeloos in die pad gesit omdat sy nie kon beweeg nie. Sy het vir Tania le Roux, ‘n vrywilliger by die Polokwane Diere Beskermingsvereniging (DBV), gebel om hulp te kry.

Tania sê omdat daar nie ‘n inspekteur in Polokwane was laas naweek nie, het sy vir Luan van der Walt van die Gemeenskaps-polisiëringsforum gebel en hulp gevra om Tinkerbell by ‘n veearts te kry.

Die veearts het al die pad gery om die donkie self te gaan haal. Nadat hy haar vir pyn ingespuit het is sy na die DBV geneem. Omdat Tinkerbell nog ‘n baba is moes sy steeds melk van haar ma kry.

Betty Janse van Rensburg, ‘n vrywilliger, het ingestem om te help. “Ons het ‘n perdetrok in die hande gekry en so die ma ook na die DBV toe geneem,” vertel Betty.

Tania sê dit was wonderlik om te sien hoe die gemeenskap by hulle te staan om die donkie te help.

‘n Hoopvolle Adele het mense Maandag op Facebook in kennis gestel dat Tinkerbell en haar ma veilig is en dat sy na verwagting ten volle sal herstel.

Maar dit was ongelukkig nie die geval nie.

Volgens Moloko Manaka van die DBV het ‘n veearts Dinsdagoggend Tinkerbell weer ondersoek.

Omdat haar beserings ernstig was, moes die DBV die besluit neem om haar uit haar lyding te verlos omdat hulle nie wou hê sy moes verder ly nie. Sy is toe die middag van kant gemaak.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button