LifestyleLocal NewsNews

PIENKVOETJIES: Kleinboet ‘n geskenk van God

Juan was met 'n breë glimlag deur sy ouboet Marchel (3) verwelkom.

POLOKWANE – Vir Wanda en Jaco Kriel was die naam Juan heel geskik vir die jongste toevoeging tot hulle familie. Juan beteken immers ‘n geskenk van God.

“Ek het redelik vinnig besef ek is swanger. Dit was omtrent drie weke toe ek uitvind. Ek was in die wolke. Hy was van dag een af net glimlagte, sonskyn en plesier,” vertel Wanda.

Juan was met ‘n breë glimlag deur sy ouboet Marchel (3) verwelkom. Hy het vreeslik baie uitgesien na sy nuwe kleinboet.

Vir Wanda was een van die grootste uitdagings tydens haar swangerskap haar man wat in Liberië gewerk het. “Hy was vir twee maande weg en dan vir twee weke hier. Dit was nie altyd maklik nie.”

Jaco was die eerste persoon wat van die swangerskap uitgevind het nadat sy vir hom ‘n stokkie met die strepies op gestuur het. Hy het haar gebel en gevra of sy seker is en of dit akuraat is.

“Ons wou bitter graag weet wat die geslag is. Gelukkig het ons nie nodig gehad om veel aan te koop nie, hy kon baie van sy ouboet se goedjies gebruik.”

Jaco moes 10 dae na die geboorte van Juan weer Liberië toe gaan, maar Wanda vertel hy is nou permanent terug by haar en die kinders.

“Ek was nooit regtig bang of onseker tydens die swangerskap en geboorte nie, seker omdat ek reeds een keer daardeur was. Met die geboorte wou ek net graag hê Juan moet reg wees. Dit was ‘n noodkeiser en hy het vir 10 minute na geboorte nie asem gekry nie, hy was feitlik blou.”

Sy vertel dat haar sussie, ma, man se kleinniggie en kollegas haar baie bygestaan het tydens die swangerskap. Sy het wel aan slaaploosheid gelei, maar het magnesium- en kalsiumaanvullings gedrink. Sy het ook bietjie met haar skildklier gesukkel tydens die swangerskap. “Dokter Veronica Stopforth en Rika Terblanche het my ook wonderlik bygestaan en gehelp.

“Ek het dit vreeslik geniet om swanger te wees. Daardie skoenlappers in jou maag is iets wat net ‘n ma met haar kind kan deel. My eerste gedagte toe ek Juan sien was dat hy so mooi is.”

Wanda vertel dat Marcel die perfekte ouboet is. “Hy is baie lief vir sy boetie en baie besorgd oor hom. Ek is vreeslik dankbaar dat hy so oor sy boetie is. Ek dink hulle gaan vreeslik lekker speel.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button