Bosveld NewsNews

Maritz nou ‘n nuwe lid van VF+

DIE Vryheidsfront Plus (VF+) het 'n nuwe lid op die dorp gekry nadat Marcelle Maritz, voorheen DA raadswyklid, gister amptelik na die party oorgeloop het.

MOKOPANE – Die Vryheidsfront Plus (VF+) het ‘n nuwe lid op die dorp gekry nadat Marcelle Maritz, voorheen DA raadswyklid, gister amptelik na die party oorgeloop het.
Maritz was vroeër vanjaar in die sop omdat sy glo die gewraakte “K” woord gebruik het.
Die DA het ondersoek na die aangeleentheid ingestel en sy is op 31 Augustus in kennis gestel dat haar lidmaatskap onmiddelik gestaak is waarna sy die volgende dag bekend gemaak het sy is nou deel van die VF+.
Maritz wat ook Bestuurder van die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging is, sê in ‘n verklaring sy het na diep besinning besluit om by die VF+ aan te sluit.
Sy was altyd ‘n toegewyde DA-raadslid maar ongelukkig het die nuwe rigting wat dié party ingeslaan het om die swart stem hul prioriteit te maak veroorsaak dat sy nie meer aandag aan die kiesers in haar kiesafdeling kon gee nie, sê sy.
“Die DA het besluit dat minderhede se kwessies nie meer aandag in die party geniet nie.
Die DA staan dus nie soos ek geglo het meer vir hulle tradisionele kiesers nie en beskerm ook nie ons taal nie.
“Daar word ook geen ernstige poging aangewend om die afbreek van ons geskiedkundige monumente te verdedig nie.”
Maritz sê voorts die DA misken in die algemeen minderheidsgroepe en hul regte, terwyl die VF+ dié groepe wil beskerm soos die Afrikaner, Khoisan en bruin gemeenskap. “Ek gaan van nou af al my energie daaraan wei om die gemarginaliseerde minderheidsgemeenskappe en my eie mense in Potgietersrus te dien.”
Sy het deur die jare ‘n goeie verhouding met die personeel van die Mogalakwena Munisipaliteit opgebou en sal dus nog steeds almal kan help met enige probleme.
“Die kiesers kan vir my in die 2016 verkiesing vir wyk 32 van Mogalakwena nomineer.
Maritz vra die gemeenskap om haar te ondersteun “sodat die party uitgebou kan word tot ‘n sterk party wat ons kan verteenwoordig op plaaslike en nasionale vlak”.
Sy meen die VF+ is die enigste party wat omgee vir minderhede en wat stry om minderheidsregte te verwesenlik as ‘n bolwerk teen die ANC se oorheersing.
Jacques Smalle, Leier van die DA in Limpopo, het gesê ‘n interne ondersoek is gedoen na sekere gedragskodes en Maritz se lidmaatskap is opgeskort met die veronderstelling dat sy nie ander partye sou nader nie.
“Sy is al ‘n geruime tyd ongelukkig en het ook na die ANC gevry, dus van heel regs na heel links.”
Die DA is ‘n groeiende party wat al sy kiesers se regte wil beskerm, ook die Afrikaner.
Hy wys daarop dat daar verskeie Afrikaners in hoë poste by die party is.
“Dit is egter belangrik om raadslede te hê wat 100 % in die party glo.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button