Local NewsNews

Rowers aangekeer na rooftog

Nou samewerking tussen die polisie en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) het daartoe gelei dat twee rowers binne ure na ‘n rooftog vasgetrek is. Twee mans het na bewering Dinsdagoggend omstreeks 08:45 die eienaar van Jack’s Paint op die hoek van van Paul Kruger- en Jorissenstraat van ‘n onbekende bedrag geld beroof. ‘n Werknemer van die onderneming, Gerhard …

Nou samewerking tussen die polisie en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) het daartoe gelei dat twee rowers binne ure na ‘n rooftog vasgetrek is.
Twee mans het na bewering Dinsdagoggend omstreeks 08:45 die eienaar van Jack’s Paint op die hoek van van Paul Kruger- en Jorissenstraat van ‘n onbekende bedrag geld beroof. ‘n Werknemer van die onderneming, Gerhard Pretorius, vertel dat die eienaar, Francois Lessing, die winkel met ‘n sak kontant verlaat het wat hy wou gaan bank.
“Die volgende oomblik het ek ‘n rumoer buite gehoor. Ek het gedink iemand is dalk van ‘n beursie of handsak beroof, maar het net bande op die teer hoor skree en na die voorkant van die winkel beweeg waar ek gehoor het die eienaar is beroof. Lessing het die vermeende rowers agternagesit.”
‘n Ander werknemer van Jack’s Paint het ook na die voorval die rowers agtervolg en gesien hoe hulle by ‘n groen BMW inspring en wegjaag.
Volgens inligting het die mans glo van die oorkant van die pad af beweeg toe Lessing by die winkel uitgestap het. Volgens Dawie Lessing, Francois se seun, het twee mans sy pa in sy bakkie oorval om die sak van hom af te neem.
“Daar het ‘n gestoei ontstaan maar uiteindelik het hulle daarin geslaag om met die geld weg te kom. Daarna het ‘n jaagtog in Jorissen- en toe in Bokstraat plaasgevind,” vertel hy.
By die Matlalakruising in Nelson Mandelarylaan het ‘n verkeersbeampte gemerk dat ‘n groen BMW en ‘n silwer Audi ‘n rooi verkeerslig verontagsaam het.
‘n Woordvoerder van die Edwel GPF-groep vertel: “Intussen het een van ons lede ons per radio in kennis gestel van die rooftog. Ons het onmiddelik begin om inligting met radio- kommunikasie en WhatsApp-boodskappe aand ander GPF’s, die verkeersafdeling en polisie deur te gee.”
‘n Helikopter van die polisie se lugvleuel het intussen help soek, en een van die GPF-lede het met sy privaatvliegtuig ook help soek.
Die twee vermeende rowers in een van die voertuie is in Greenside deur die polisie gearresteer. Hulle was in besit van geld wat vermoedelik dieselfde geld is wat van Lessing gesteel is en het die geld en twee booswigte na die Westenburg polisiestasie geneem. Die twee rowers is deur ooggetuies geïdentifiseer en meeste van die geld wat na bewering geroof is, is teruggekry.
Lessing het ligte kneuswonde opgedoen , maar is dankbaar dat hy lewe.
Volgens Ntobeng Phala, woordvoerder van die Polokwane polisie, het beide voertuie presies dieselfde vervalsde Gauteng registrasieplate gehad. Die polisie soek nog na twee van die rowers se makkers wat reeds geïdentifiseer is. Na verwagting sal hul inhegtenisneming spoedig plaasvind.
Die Edwelgroep het almal betrokke vir hul vinnige optrede, samewerking en verspreiding van inligting wat gehelp het met die vinnige arrestasie, bedank.
“Ons wil mense ook aanmoedig om met hul bure en kollegas te gesels en seker te maak dat almal by hul plaaslike buurtwag of GPF inskakel. Dit maak ‘n reuse verskil wanneer jy die dag in nood is.”

Storie: NELIE ERASMUS
>>nelie.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button