Local NewsNews

AfriForum-plan om misdaad hok te slaan

Die noodkreet van slagoffers van nagenoeg vyf miljoen misdade wat wissel van moord tot voertuigkapings in Suid-Afrika oor die afgelope byna 21 jaar, het bygedra tot die ontwikkeling van ‘n nasionale veiligheidsplan wat einde verlede week tydens AfriForum se tweejaarlikse kongres in Limpopo bekendgestel is. Die veiligheidsplan van die burgerregte-organisasie het ten doel om gemeenskappe …

Die noodkreet van slagoffers van nagenoeg vyf miljoen misdade wat wissel van moord tot voertuigkapings in Suid-Afrika oor die afgelope byna 21 jaar, het bygedra tot die ontwikkeling van ‘n nasionale veiligheidsplan wat einde verlede week tydens AfriForum se tweejaarlikse kongres in Limpopo bekendgestel is.
Die veiligheidsplan van die burgerregte-organisasie het ten doel om gemeenskappe met die nodige kennis en vaardighede toe te rus ten einde misdaad self die hoof te bied.
Volgens AfriForum het 395 000 moorde sedert 1994 en 730 070 seksuele misdrywe, 2 331 897 aanrandings met die doel om ernstig te beseer, 1 286 882 rooftogte met verswarende omstandighede en 136 953 voertuigkapings sedert 2004 in Suid-Afrika plaasgevind.
Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se adjunk-uitvoerende hoof, is in ‘n mediaverklaring aangehaal deur te sê die regering is nie daartoe in staat om misdaad te bekamp nie en daarom het die tyd aangebreek vir landsburgers om op te staan en self misdaad in hul woongebiede hok te slaan.
Volgens hom is misdaad ‘n epidemie wat in die land posgevat het omdate die regering sy plig versuim om wet en orde te handhaaf. “Suid-Afrika het ‘n mensgemaakte rampgebied geword, ‘n plek waar misdadigers vry kan rondbeweeg en waar ons gyselaars in ons eie huise is.”
Jansen van Rensburg meen pleidooie aan die regering werp nie vrugte af nie. “Politici en regeringsamptenare maak hulself skuldig aan misdaad en korrupsie, terwyl gewone mense bloei. Ons mag dit nie verder duld nie. Ons moet iets doen. AfriForum se Nasionale Veiligheidsplan bied die nodige infrastruktuur en opleiding aan gemeenskappe wat hulself teen misdaad wil beskerm.
Hy het voorts gesê hoewel die kongres sy dank uitgespreek het teenoor die vele polisiebeamptes wat uitstekende werk doen, wys die werklikheid dat mense slegs vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika sal kan wees as hulle self na hul veiligheid omsien.
Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het tydens die bekendstelling gesê dat misdaad nie deur die regering gekeer kan word nie, en het met verwysing na die misdaadsyfers van die afgelope 20 jaar gesê Suid-Afrika is in ? lae-intensiteit-burgeroorlog gewikkel. “Met 1 uit elke 100 polisiebeamptes in Suid-Afrika wat ? kriminele rekord het, bestaan daar min rede om vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te hê. Onder die leierskap van Riah Phiyega het die misdaadsituasie in die land versleg. Sowat 700 huisbrake word elke dag aangemeld, en sowat 100 gevalle van trio-misdade, wat ernstige en geweldsmisdade is. Waar daar in 1994 sowat 25% van dié misdade was, het dit tot meer as 40% toegeneem. Die slotsom is dat misdade ál meer gewelddadig, gefokus en spesifiek geword het,” het Cronjé gesê.
Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, is terselfdertyd aangehaal deur te sê dit het die organisasie twee en ‘n half jaar geneem om ‘n doeltreffende veiligheidsplan te ontwikkel. Die plan, opgestel met die hulp van navorsers en kundiges asook praktiese implementeringstoetse, bestaan uit infrastruktuur en opleiding as hoofkomponente. “Die veiligheidsplan maak dit moontlik vir landsburgers om hulself op ? verantwoordelike en wettige manier te beveilig.”
Infrastruktuur waaronder patrollies, reaksie, insidentbeheer, radionetwerke en beheerkamers is by die fokuspunte ingesluit. Die plan spreek verder opleiding aan wat basiese patrollie-opleiding, wetlike aspekte, gespesialiseerde opleiding vir reaksiespanne, noodhulp en radiokommunikasie-opleiding behels.
Morné Mostert, AfriForum se gemeenskapskoördineerder vir Limpopo, sê die kongres het as deel van die mosies wat aanvaar is dat die gemeenskap moet opstaan en self hul probleme aanspreek in gevalle waar die staat hul verpligtinge versuim, gesê: “Ons kan nie wag vir die hele sisteem om plat te val nie, ons moet self moue oprol en die probleme aanspreek.” Hy het daarop gewys dat Afriforum reeds verskeie buurtwagte regoor die land help stig het en hulle sal toerus om die nasionale strategie dadelik te begin implementeer.
Die kongres by Bela-Bela is deur meer as 400 afgevaardigdes en verteenwoordigers van AfriForum se 150 plaaslike strukture van regoor die land bygewoon.

Storie: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button