Local NewsNews

Ongeluk eis drie vroue in Vrouemaand

In een van die afgryslikste ongelukke vanjaar nog in Limpopo, is drie vroue Sondagmiddag midde die herdenking van Augustus as Vrouemaand op slag in ‘n klaarblyklike kop-teen-kop-botsing ongeveer 15 km vanuit Polokwane op die N1 suid dood. Te oordeel aan die verwronge wrakke van die twee voertuie, ‘n blougrys Hyundai Atos en ‘n swart Toyota …

Die wrak van die Toyota Yaris waarin twee susters, Motswana Maria Papala en Sophia Mabjalwa Papala gesterf het.
Die wrak van die Toyota Yaris waarin twee susters, Motswana Maria Papala en Sophia Mabjalwa Papala gesterf het.

In een van die afgryslikste ongelukke vanjaar nog in Limpopo, is drie vroue Sondagmiddag midde die herdenking van Augustus as Vrouemaand op slag in ‘n klaarblyklike kop-teen-kop-botsing ongeveer
15 km vanuit Polokwane op die N1 suid dood.
Te oordeel aan die verwronge wrakke van die twee voertuie, ‘n blougrys Hyundai Atos en ‘n swart Toyota Yaris, het spoed ‘n deurslaggewende rol gespeel. Die twee vroue-passasiers wat in die Toyota was, het omgekom. Westenburg se polisie-woordvoerder, Mohlaka Mashiane het hulle as twee susters, Motswana Maria Papala en Sophia Mabjalwa Papala geïdentifiseer.
Een van hulle familielede was die bestuurder wat die ongeluk oorleef het en in die hospitaal opgeneem is.
Die liggaam van een van die twee susters (wat langs die bestuurder gesit het) is met impak sowat 30 meter ver uit die voertuig in die veld geslinger.
In die blougrys Hyundai was die liggaam van Joey Thoresson (59). Ongeveer ‘n halfuur nadat haar vriend, André Olwage haar op die N1 net buite die stad afgesien het waar sy onderweg was na haar woning in Benoni, het die noodlot toegeslaan. Sy het pas van ‘n familiebyeenkoms in Polokwane vertrek ter herdenking van Olwage se ouers, Hennie en Rita Olwage, se 63ste huweliksherdenking saam met hom en sy familielede.
Maandagoggend In Polo­kwane Observer se kantoor het Olwage, ‘n inwoner van Louis Trichardt, verslae vertel hoe hy omstreeks 15:00 van haar afskeid geneem het: “Ek is lief vir jou, mooi ry. Ons sien mekaar Donderdag.”
Die paartjie sou Vrydag Kaapstad toe vlieg waar hulle Saterdag ‘n Gospel Skouspel-konsert in die Moederstad sou bywoon. Boonop sou hulle die naweek verloof raak. “Ons wonderlike droom het tragies en in ‘n oogwink tot ‘n einde gekom.”
Olwage het Thoresson as ‘n liefdevolle, nederige kind van die Here beskryf wat altyd gelag het. Sy was by Vodacom in Midrand werksaam en was volgens hom gewild by die werkplek omdat sy oor goeie menseverhoudings beskik het en ‘n baie goeie voorbeeld gestel het.
Sy laat vier kinders en vyf kleinkinders na. Haar begrafnisdiens vind Vrydag om 10:00 van­uit die Metodistekerk in Benoni plaas.
Op die ongelukstoneel het verwarring oor die oorsaak van die ongeluk geheers.
‘n Ooggetuie, Walter Coetzee van Tzaneen kon die raaisel Dinsdagaand in ‘n telefoniese gesprek uitklaar.
“Ek was in die rigting van Polokwane onderweg toe ek ‘n ander voertuig in die regterkantse baan verbygegaan het. In my truspieël het ek gesien dat ‘n swart voertuig (die Toyota) teen ‘n hoë spoed my van agter nader wat sy ligte flikker dat ek die baan moet oopmaak.”
Die bestuurder van dié naderende voertuig het gepoog om Coetzee se voertuig aan die linkerkant verby te gaan. Aangesien daar nie spasie was nie, het die bestuurder toe skerp regs geswaai en rakelings ‘n trok van voor getref wat in die teenoorgestelde rigting as hy onderweg was.
Die Toyota was buite beheer en het daarna die Hyundai met volle impak van regs voor getref. Die Hyundai is moontlik deur die lug geslin­ger en het ongeveer 20 meter vanaf die punt van impak in die veld op sy wiele te lande gekom.
Mohlaka Mashiane, Westenburg Polisiewoordvoerder het bevestig dat die polisie ‘n saak van strafbare manslag teen die bestuurder van die Toyota ondersoek.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button