PIENKVOETJIES: Klein Annike het sterk band met gesin se hond, Chewy

"Hy (Chewy) is tog te bang jy vat aan sy babasussie," vertel Hanna laggend.

POLOKWANE – Stop jy voor Hanna en Carel Swart se huis begin die huishond, Chewy, histeries blaf.

En dis nie noodwendig omdat hy jou as ongewenste besoeker aansien nie, maar vanweë sy amper “broeise” beskerming van die gesin se nuutste toevoeging.

“Hy is tog te bang jy vat aan sy babasussie,” vertel Hanna laggend. Die babasussie is Hanna en Carel se pasgebore baba, Annike. Volgens Hanna is daar reeds ‘n baie sterk band tussen die hondjie en haar baba.

“Chewy dink Annike is syne. Hy is vreeslik beskermend teenoor haar en altyd opgewonde om haar te sien. As jy die een soek en optel, moet jy weet die ander een gaan saam,” voeg Carel by.

Hanna, ‘n onderwyser, vertel Annike is beplan en nadat sy die goeie nuus dat sy swanger is aan Carel oorgedra het, het sy haar pa gebel.

“Ek het hom die oggend wakker gebel. Hy was vreeslik opgewonde. Hy het haar egter nog nie ontmoet nie, aangesien hy ‘n paar dae voor haar geboorte oorsee moes gaan. Nou Skype die twee maar met mekaar,” lag Hanna.

Sy vertel sy het reg deur haar swangerskap nie onnatuurlike uitdagings gehad nie. “My maag was net yslik groot teen die einde, ek kon nie eers meer my toonnaels verf nie. My jeans het ook nie meer gepas nie en ek het gesukkel om te slaap. Die eerste ding wat ons gekoop het toe ons uitgevind het ons is swanger, was ‘n Angel-asemhalingsmonitor.”

Hanna vertel dat Annike se naam deel van haar ma en ouma se naam is – sy glo in familiename en het bietjie met name rond gespeel om by Annike uit te kom.

“Ek het reg deur my swangerskap gesond geëet en gestap. Ek was baie keer lus vir sjokolade en kon glad nie rooibostee en rou vleis verdra nie. Ek kan steeds nie steak verdra nie – dit maak my naar. Tussen my ma en my man kan ek nie besluit wie het my die meeste ondersteun nie. Hulle het gereeld my rug en my voete gevryf. My hande was later so geswel ek kon nie meer my trouring dra nie, dit was erg.”

Hanna het gesukkel met oggendnaarheid en sooibrand, maar sê Marie-beskuitjies het daarvoor gehelp.

Sy het voorgeboorteklasse by Rika Terblanche gekry en Rika het haar ook touwys gemaak met die begin van borsvoeding.

“Ek glo dat elke kind geborsvoed moet word, maar het soos baie ander mammas probleme gehad dat my baba wil borsvoed, Gelukkig het Rika mooi gehelp en dit raak nou elke dag makliker.”

As nuwe ouers is haar en Carel se eerste uitdaging na Annike se geboorte toe hulle vir ‘ n dag plaas toe moes gaan. Hanna vertel sy het nie geweet wat sy moet inpak en wat sy moes los nie. Hulle volgende uitdaging is ‘n naweek op die plaas.

“Die lekkerste van die swanger-skap was om te voel hoe sy skop. My eerste gedagte toe ek haar sien was dat sy baie mooi is en myne is. Ek het in die eerste drie dae na haar geboorte ligte depressie gehad, maar my ondersteuningstelsel is baie goed en het daardeur gekom. Nou is my grootste vrees dat sy te vinnig groot gaan word – sy het reeds soveel gegroei. Dit is vir my baie lekker om ‘n ma te wees. Ek is ‘n familiemens.”

Carel voeg laggend by dat slaap nie meer vir hulle bestaan nie en dat hulle hele roetine nou rondom hul dogter draai. “Dit is vir ons ‘n aanpassing, maar dit is ook ‘n heerlike verandering.”

PIENKVOETJIES: Wonderlike verrassingsgeskenk

PIENKVOETJIES: Jonelke is ‘n welkome toevoeging tot die Burger-gesin

PIENKVOETJIES: Keagan, vuur en vlam vir Pa en Ma

PIENKVOETJIES: Charmoné bring vreugde vir die hele Nel-gesin

PIENKVOETJIES: Kleinboet vir Nihan om die prentjie te voltooi

PIENKVOETJIES: Gabriella, krag van God

PIENKVOETJIES: Sussies se geluk dubbeld

PIENKVOETJIES: Eersteling De Wet bring vir hulle geluk, laat familienaam voortleef

PIENKVOETJIES: Tien jaar en toe kom hulle kleinding, Johandré

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version