Oudinwoner maak naam met modelwerk

Robyn du Plessis, voormalige Polokwane-inwoner sê dat sy in haar wildste drome nooit sou kon raai dat haar stokperdjie haar sou help om eendag in ‘n modetydskrif te pryk nie. Die 19-jarige skoonheid het verlede jaar aan Hoërskool Pietersburg gematrikuleer en het drie jaar gelede by die beroemde internasionale modelagentskap, Boss Models aangesluit. Haar verbintenis …

Robyn du Plessis wys foto’s van haarself in ‘n tydskrif.
Robyn du Plessis wys foto’s van haarself in ‘n tydskrif.

Robyn du Plessis, voormalige Polokwane-inwoner sê dat sy in haar wildste drome nooit sou kon raai dat haar stokperdjie haar sou help om eendag in ‘n modetydskrif te pryk nie.
Die 19-jarige skoonheid het verlede jaar aan Hoërskool Pietersburg gematrikuleer en het drie jaar gelede by die beroemde internasionale modelagentskap, Boss Models aangesluit.
Haar verbintenis met die modelagentskap het begin toe sy vir ‘n voorbladkompetisie ingeskryf het waar die wenner ‘n kontrak met hulle kon wen. Sy was vierde en het nie die kontrak gewen nie, maar dié gesogte agentskap het haar raakgesien en haar ’n paar weke later geskakel en ‘n kontrak aangebied. “Ek was uit die veld geslaan, maar het nie die kans deur my vingers laat glip nie,” vertel Du Plessis.
Sedert sy en haar ouers aan die einde van 2014 na Pretoria verhuis het, is sy pal besig met modelwerk.
“Ek was baie opgewonde om te hoor dat ek gekies is om in ‘n modebylaag van ‘n gewilde tydskrif te verskyn. Dit was nogal eienaardig en terselfdertyd wonderlik om my foto’s in die tydskrif te sien. My ma, Liesl, het sommer ‘n hele hoop tydskrifte gekoop. Ek is baie gelukkig dat my familie my baie in my loopbaan ondersteun.”
Du Plessis ervaar modelwerk baie uitdagend en sê dat mens nooit weet wat om te verwag nie. “Die agentskap kan jou enige tyd uit die bloute bel en sê jy moet onmiddellik gereed wees vir ‘n fotosessie.”
Tog sê Du Plessis, wat modelwerk begin doen het as ‘n tydverdryf en nooit voorheen enige modelopleiding gehad het nie, dat sy nie modelwerk as ’n beroep wil volg nie, maar eerder ‘n aktrise wil word. Sy beoog om volgende jaar drama aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.
Charlize Theron is haar rolmodel en ‘n groot inspirasie. “Ek wil graag eendag net soos Theron na Amerika verhuis en my droom om ‘n aktrise te word daar bewaarheid.”

Storie: LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version