Wag doodgeskiet in rooftog by tabakreus

‘n Sekuriteitswag van Fide­lity Security Group is vroeg Dinsdagaand glo met ‘n R5-aanvalsgeweer by British American Tobacco (BAT) in Magna Via tydens ‘n rooftog doodgeskiet. Die polisie en verkeersdepartement het gou na die voorval alle hoofroetes in en uit die stad beman in ‘n poging om vyf gewa­pende rowers in ‘n wit Volkswagen Polo en …

‘n Sekuriteitswag van Fide­lity Security Group is vroeg Dinsdagaand glo met ‘n R5-aanvalsgeweer by British American Tobacco (BAT) in Magna Via tydens ‘n rooftog doodgeskiet.
Die polisie en verkeersdepartement het gou na die voorval alle hoofroetes in en uit die stad beman in ‘n poging om vyf gewa­pende rowers in ‘n wit Volkswagen Polo en swart BMW vas te trek, maar was onsuksesvol.
Volgens Polokwane po­lisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba het die slagoffer en nog ‘n wag geld by die tabakmaatskappy gaan oplaai.
“Hulle is deur vyf gewapende rowers oorval en een van die wagte is in die pro-ses doodgeskiet. Beide voertuie het Gauteng-registrasies gehad en ‘n onbekende bedrag geld is gebuit,” sê Ramoshaba.
Volgens ‘n bron is die rooftog moontlik met hulp van binne die maatskappy beplan en uitgevoer.
“Niemand kan normaalweg die perseel binnegaan sonder om by die sekuriteitspunt aan te meld en ‘n besoekersregister te teken nie, maar dit het volgens bronne glo nie Dinsdagaand voor die voorval gebeur nie. Die Polo was net voor die rooftog op die perseel terwyl die BMW buite gestaan het. Die wag is glo tussen die hoofgebou en kleiner buitegebou in die bors geskiet. Die tweede wag het glo met die geldwa deur die perseel se hek gejaag om uit die gevaargebied te kom,” sê die bron wat op die toneel was.
Hy sê daar is baie vrae oor die voorval omdat verskeie rondtes lewendige ammunisie op die toneel gevind is, maar slegs een koeëldoppie is glo volgens hom op die sekuriteitswag se bors gevind. Hy het verduidelik dat dit nie sin maak dat daar glo nie meer doppies in die omgewing gevind is nie, aangesien die R5-aanvalsgeweer semi-outomaties is. Provinsiale polisiewoorvoerder, Ronel Otto het ook die voorval bevestig en gesê die gewapende rowers het klapmusse gedra en kon gevolglik nie geïdentifiseer word nie. “Nog geen arrestasies is gemaak nie en die ondersoek duur voort,” sê Otto.
Die plaaslik Fidelity-tak wou nie kommentaar lewer nie en het Polokwane Observer na hul hoofkantoor in Johannesburg verwys. Na verskeie probeerslae en nadat die publikasie se oproep van een persoon na die ander deurgeskakel is, kon geen kommentaar verkry word nie.
Tabby Tsengiwe van BAT se korporatiewe kommunikasie-afdeling het gisteroggend skrif-telike navrae vereis en het nie teen druktyd gereageer nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version