Pietie blom op loopplank

Sinéad Otto is 'n gr. 12-leerder by Hoërskool Pietersburg (PHS) wat reeds naam begin maak het in die modelwêreld en nie van plan is om binnekort op te hou nie.

POLOKWANE – Sinéad Otto is ‘n gr. 12-leerder by Hoërskool Pietersburg (PHS) wat reeds naam begin maak het in die modelwêreld en nie van plan is om binnekort op te hou nie.

“Ek neem feitlik elke naweek deel aan ‘n kompetisie en geniet elke oomblik daarvan,” vertel sy waar ons in haar ouers se sitkamer sit en gesels.

Sy vertel sy het op die ouderdom van 14 jaar begin met modelwerk terwyl sy nog in Louis Trichardt gebly het. Haar eerste kompetisie was in 2011 by die Inni-Berg Fees. Sy het in 2013 by Model Cup aangesluit waar sy afrondingswerk begin doen het.

“Ek het in daardie jaar ook by Bella Donna Limpopo aangesluit waar Ilse Viljoen my geleer het oor ‘n beter liggaamshouding en spraaketiket. In 2014 het ek deelgeneem aan Face of Trace waar ek tweede plek gewen het.”

Van daar af het sy aan verskeie skoonheids-kompetisies deelgeneem. Sy was deel van ‘n mode-vertoning waar Dennis Lloyd, ‘n bekende mode-ontwerper, se klere bekendgestel is. Sy het ook deelgeneem aan die Face of the Year kompetisie waar sy negende in die land gekom het.

“Modelwerk is iets wat ek nog altyd wou doen. Die lekkerste daarvan is dat ek ander meisies kan inspireer en ‘n voorbeeld kan wees vir hulle. Ek kan vir hulle wys dat hulle hul drome kan najaag. Ek hou die meeste van die loopplank deel van die modelwerk, daar kan ek die meeste houding uitbeeld.”

Sinéad vertel dat daar ook negatiewe aspekte is, byvoolbeeld dat modelle dikwels negatiewe kritiek ontvang. Haar raad aan ander modelle is om sterk te staan en die kritiek as positief toe te pas.

“Modelwerk is ‘n sport, en dit is nie ‘n goedkoop sport nie. Dit is wel baie lekker en definitief die moeitewerd.”

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version