Editor's choiceLocal NewsNews

‘n Leeftyd vol van sy skatte

Chris du Preez, 'n gevestigde sakeman van hierdie stad en eienaar van Môrester Bande, is 'n persoon wat veral aandag aan detail gee.

POLOKWANE – Chris du Preez, ‘n gevestigde sakeman van hierdie stad en eienaar van Môrester Bande, is ‘n persoon wat veral aandag aan detail gee. Nie net as ‘n besigheidsman nie, maar ook as dit kom by die vele stokperdtjies waarmee hy hom self besig hou. Van hierdie stokpertjies kom al sedert die dae toe hy ‘n gr.8 leerder op skool was.

Du Preez sê as kind het hy 1-18 skaalmodelle van motors gebou en selfs knipmesse versamel, maar na skool met universiteit en weermag, het sy stok-perdjies vir eers bietjie agterweë gebly.

Op skool het hy kuns as sewende vak gehad en wys van die skilderye wat hy al self geverf het. Hy sê toe hy begin werk het by Môrester Bande, het sy stokperdtjie-gees weer behoorlik begin vlamvat.

Kort voor lank het Du Preez se stokperdjie na meer as net skaalmodelle uitgebrei, en hy het begin om weer skilderye en messe te versamel.

Du Preez sê behalwe dat hy self sy eie skilderye geverf het, het hy ook begin om kunswerke van ander kunstenaars aan te koop.

“Vandag kry ek nie meer tyd om te skilder nie weens my sakebelange en wildsplaasbedryf. Ek het eenvoudig nie meer genoeg plek om al die geraamde skilderye op te hang nie. Dit is hoekom ek al my skaalmodelle na my kantoor geskuif het. Van al die messe wat ek in my versameling het, het ek sowat twee weke gelede ‘n gelukkie gehad. Vriende van my het in Johannesburg ‘n mes ontdek wat ek graag my hele lewe lank al wou hê. Dis nou wel nie splinternuut nie, maar die Karl Schlieper mes wat in Duitsland vervaardig is, is vir my die uiteindelike by my messeversameling.”

‘n Enkele dag is nie genoeg om al Du Preez se versamelings te bewonder en na die stories daaraan verbonde te luister nie. Du Preez is ondermeer tans besig om ‘n histories skaalmodel seilskip, wat uit duisende stukkies bestaan, aanmekaar te sit. Hy sê wanneer die seilskip voltooi is, gaan hy dit binne-in ‘n glaskas seel om dit teen stof te beskerm.

Du Preez het sowat 43 van Suid-Afrika se wildspesies al gejag en het ‘n wye versameling wildstrofeë. So tussen die skaalmodelle, messe, en skilderye, is daar nog talle broodboomspesies wat in sy tuin spog asook ‘n groot reeks van toeka tot nou se lewendige-optrede musiek DVD’s en fliek DVD’s.

“Versameling is soos ‘n verslawing. Ek weet as ek nou weer met iets nuuts gaan begin, gaan ek nooit ophou nie. Daarom hou ek nou by wat ek het. Ek lê soms aande wakker en wonder wat ek gaan saamneem die dag as ek aftree. Ek het klaar vir my hier in Polokwane ‘n aftreeplekkie gekry. Ek het besluit ek sal die kunswerke wat vir my die meeste sentimentele waarde het saamvat, want geldwaarde kan dit nie vervang nie. Ek tree hier in dié stad af, nêrens anders nie, want hierdie stad se gemeenskap was net goed vir my, my familie, en bowenal my besigheid al vir meer as 50 jaar. Daarom sal ek verkies om hier dood te gaan eendag, dit is waar my plek is,” sluit Du Preez af.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button