Bosveld NewsNews

BOSVELDPRAATJIES: Nou het ek alles gesien

In Prediker staan geskryf dat daar niks nuuts onder die son is nie, maar met respek, die skrywer van dié Bybelboek het beslis nie van 'n kat se foefenjol- bedekker gehoor nie.

In Prediker staan geskryf dat daar niks nuuts onder die son is nie, maar met respek, die skrywer van dié Bybelboek het beslis nie van ‘n kat se foefenjol- bedekker gehoor nie.

Kom ek mos anderdag op die nuutste gier van welvarende idiote af. Wanneer ‘n huiskat jou groet, lig die ding sy stert en natuurlik is sy bruin oog dan duidelik sigbaar. Blykbaar is daar welgestelde mense vir wie dit so skaamteloos onwelvoeglik is dat hulle nou ‘n rynsteen of ander blink dingetjie kan koop om oor die stert te hang sodat dit daardie ou kolletjie heeltemal bedek. Koop, koop die mense. En nee, g’n dieresielkundige het nog met ‘n huiskat gepraat om te hoor wat katte daarvan dink nie.

Dis omtrent so goed as om ‘n hond se neus toe te plak wanneer hy ‘n ander hond wil gaan groet deur daardie einste kolletjie te beruik.

So 20, 30 en 40 jaar gelede kon jy reeds nêrens met ‘n junior sertifikaat kom nie, dit was toe die ou st. 8, die huidige gr. 10. Nou sien ek ons hoofkommunis se department wil kinders met gr. 8 (ou st. 6) ‘n skoolverlatingsertifikaat gee wanneer die arme bloedjies die skool as analfabete verlaat. Om wat mee te maak, vra ek met trane in my navyblou oë. Die outjies is dan iewers tussen 14 en 16 jaar oud, afhangende van hoeveel jare hulle sonder verdienste van die een graad na die volgende deurgesit is. Wie op dees aarde gaan vir hulle werk aanbied, behalwe bordele, dwelmsmouse en kapingsindikate?

Hou die massa ongeleerd en onaanwendbaar, dan regeer jy tot in lengte van dae, is skynbaar wat in hogere gestoeltes nagestreef word. Wat geleerdheid aanbetref is ons vinnig op pad na die donker eeue in Europa. Ons gaan met ‘n opgevoede elite sit, maar die massas kan beswaarlik lees of skryf. In enige diktatuur sou diegene in die onderwysstelsel wat vir hierdie onverkwiklike toedrag van sake verantwoordelik was, baie vinnig hul voorvaders ontmoet het. Ongelukkig sit ons met wat allerwëe as die beste grondwet ter wêreld beskou word, wat sulke tjoef-tjaf regstellings prontuit verbied. Nie dat dit lyk of die hogere menere binne PRASA hulle enigsins daaraan steur nie. Blykbaar word daar op vergaderings sommer sito-sito besluit om mense van kant te maak as hulle dit durf waag om op “lucky” tone met hoë politieke konneksies te trap, geesdriftig ondersteun deur ‘n tot nog toe ongeidentifiseerde polisiekolonel en adjunk minister.

As ek so na die foto’s kyk wat die rondte doen na die media se kortstondige besoek aan “Nkôndla”, wil dit mos vir my lyk of die sondebok vir die brouselspul wat daar gepleeg is, eindelik op film vasgelê is.

Ai tog, die beteuterde verskoning vir ‘n boerbok wat op een van die polisiewoonstelle se stoep teen die rëen geskuil het, lyk omtrent net so flou as die verskonings wat soos worsderms deur nommer een se juigbrigade uitgeryg word. Omtrent die enigste verskoning wat nog nie vir “Nkôndla” gebruik is nie, is dat dit eintlik ons geheime vuurpyllanseerbasis is. Of het ek nou ‘n staatsgeheim uitgelap?

‘n Aardbewing is besig om die VSA se politieke toneel te tref. Kuifkop Donald Trump is skynbaar die voorloper onder die Republikeinse presidentskandidate, al sit hy gereeld altwee sy voete dwars in sy mond. Ek wens net iemand ter plaatse wil ook soos hy bietjie mond uitspoel oor al die onwettiges wat ons grense snuif trap. Hulle sit net met die Mexikane, terwyl ons die hele Afrika suid van die Sahara op pad hierheen het. Die deel noord daarvan is besig om kwaai uitgedun te raak soos wat hul bote die een na die ander op pad Europa toe in die Middellandse See sink.

Kyk, Donald Trump se kuif mag die beste nabootsing van ‘n mieliekop in volle bestuiwingsdrag wees wat ek nog gesien het en die Huffington Post mag nou wel hul dekking van sy politieke veldtog om president te word van hul politieke bladsye na hul grapbladsye verskuif het, maar een feit staan soos ‘n paal bo water. Met die VSA se volgende presidentsverkiesing mag hulle dalk net met ‘n hanswors as president opeindig.

Die Amerikaners het wel voor ons die dwergplaneet Pluto besoek, maar met hierdie een is ons hulle ver voor. Ons het klaar ‘n nar in die boonste stoel.

Related Articles

Back to top button