Local NewsNews

Campbells sing vir Koningskinders

Die Campbells het op Saterdag in die stad opgetree ten bate van Die Koningskinders

POLOKWANE – Kinders kan hulself nie help nie. Hulle vra nie vir hulle omstandighede nie en hulle omstandighede is nie altyd lekker nie. Al is dit nie jou kinders nie, kan jy altyd ‘n verskil in hulle lewe maak. Dit is die woorde van Tony Campbell, een van die Campbells wat Saterdag in die stad opgetree het ten bate van Die Koningskinders.

Van vroegaand reeds het inwoners na St. Marco gestroom, warm aangetrek en gereed vir ‘n partytjie in die opelug. Die Campbells het ook nie teleurgestel nie en hul gewilde snitte soos Rooi Rok Bokkie en Honderd Jaar gesing. Ook het hulle met ou treffers soos The Gambler, Hill Billy Rock en Cotton Eye Joe die gehoor se voete aan die jeuk gehad. Met arms in die lug het verskeie gaste heerlik saam gedans en hier en daar het ‘n paartjie mekaar om die lyf gegryp en lang-arm gedans.

Die Campbells het ook snitte van hul nuutste CD, Fanta & Cola, gespeel. Snitte soos Vlinder, Karate Water en Stoutgat.

“Die tema van vanaand is ‘Vriende’ en ons wil hê almal moet as vriende saam kuier. Indien jy ‘n CD koop, kry jy ons nuutse DVD, Babsfontein, gratis,” vertel Tony.

Gaste kon tydens die pouse smul aan heerlike kerrie en rys en kraakvars slaaie.

“Ek is absoluut gaande oor Die Campbells. Hulle musiek is altyd opgeruimd en ‘n mens dans heerlik daarop. Ek is so bly hulle het Polokwane besoek,” vertel Herman Kotze, een van die besoekers.

 

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button