NewsSchools

Kardoesie ‘slagoffer van geweld’

Op Dinsdag, 28 Julie is Hoërskool Pietersburg (PHS) se langbeenpop, Kardoesie, asook die gelukbringermotor, Scotty, deur twee mans wat tiermaskers gedra het, ontvoer en aangehou vir 'n losprys.

POLOKWANE – Op Dinsdag, 28 Julie is Hoërskool Pietersburg (PHS) se langbeenpop, Kardoesie, asook die gelukbringermotor, Scotty, deur twee mans wat tiermaskers gedra het, ontvoer en aangehou vir ‘n losprys.

Terwyl dié episode hom in die stad afspeel is die leerders van PHS besig met hul optrede om te kyk waar Kardoesie vir die volgende jaar gaan woon.

Die gr. 9-groep open die aand met die tema ‘Aim for the stars in style’. Hulle het verlede jaar met Kardoesie weggestap en was vasbeslote om dit weer hierdie jaar te doen. Gedurende hul optrede bied hulle ‘n sterretjie vir Kardoesie aan.

Net na hul optrede word die gehoor ingelig dat Kardoesie se ontvoerders kontak gemaak het en ‘n losprys soek vir haar en Scotty se veilige vrylating. Gaste is gevra om solank geld vir die losprys in beskikbare bokse te plaas terwyl die gr. 11-groep besig is met hul optrede ‘Cartoon Colour Festival’.

Met karakters soos Peter Pan en Tinkerbell, Tarzan en Jane en die Flintstones het dié groep hul bes gedoen om te probeer wys dat hulle die beste huis vir Kardoesie kan bied volgende jaar.

Intussen het die ontvoerders foto’s gestuur waar Kardoesie vasgebind is met ‘n plastieksak oor haar kop. Sy kon nie skree vir hulp nie. Met dié word die gehoor éérs gemotiveerd om nog geld in te samel vir die losprys.

Volgende is dit die gr. 8-groep met ‘New York Taxi Cab Drivers’ waar hulle, gekleë in geel en swart klere, die gehoor warm gedans het. Na hulle kom die gr. 10-groep met hul poging om Kardoesie hulle s’n te maak met die tema ‘Inferno’.

Die gr. 12-groep sluit die aand af met hul tema ‘Magic’ waar hulle sê: “Kul jou hier, kul jou daar, ons vat Kardoes, dis waar.”

“Dames en here,” begin Janie Wierenga, die seremoniemeester. “Ons het woord ontvang van die ontvoerders dat Kardoesie ongedeerd op pad terug is in Scotty. Die geld wat ons vanaand ingesamel het gaan in die traumafonds in. Dit is ‘n fonds wat daar is om leerders wat mediese hulp nodig het, maar nie mediese fondse het nie, by te staan. Dankie vir elkeen se bydrae.”

Met ‘n gejuig kom Pietie, die skool se gelukbringer, saam met Kardoesie en Scotty ingestap, en veg Pietie verbete om vir Kardoesie, sy meisie, te red uit die kloue van die ontvoerders.

Die gr. 9-groep is weer as hierdie jaar se wenners aangewys en bied vir Kardoesie ‘n veilige huis tot volgende keer.

Tweede was die gr. 10-groep en derde was dit die gr. 8-groep.

“Hierdie was ‘n heerlike ervaring en die gees is lekker by die skool. Dit was die eerste keer wat ek Kardoesie bywoon, maar ek sal beslis weer kom,” vertel Riekie Swart, een van die gaste.

VIDEOS:

Kardoesie 2015: Gr. 9 Leerders

Kardoesie 2015: Gr. 12 Leerders

Kardoesie 2015: Gr. 10 Leerders

Kardoesie 2015: Gr. 8 Leerders

Kardoesie 2015: ‘Cartoon Colors’

MEER FOTO’S

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button