Editor's choiceLocal NewsNews

‘Hy het diep spore gelos’

'n Geliefde sakeman en inwoner van die stad, Barry Streicher is Donderdag in die ouderdom van 73 jaar oorlede.

POLOKWANE – ‘n Geliefde sakeman en inwoner van die stad, Barry Streicher is Donderdag in die ouderdom van 73 jaar oorlede.

“My man was ‘n geliefde en ‘n dinamiese man. Hy was werklik ‘n groot gees,” vertel Magda Streicher waar sy op haar bank op die sonstoep sit. Stadig blaai sy deur ‘n fotoalbum wat spreek van die vol lewe wat Barry gelei het.

“Alles wat hy aangepak het was suksesvol,” vertel sy.

Barry het twee jaar gelede ‘n heupvervangingsoperasie ondergaan en sy gesondheid het sedertdien afgeneem. Volgens Magda het dinge maar moeilik gegaan, veral die laaste ses maande.

Barry het sy skoolloopbaan in Polokwane begin en aan Hoërskool Pietersburg (PHS) matrikuleer. Hy het ook vir die rugbyspan se voorry uitgedraf. Na skool is hy vloot toe waar hy vir twee jaar diens gedoen het. “Hy was ‘n groot sakeman en het veral in eiendom belê; hy het wildsplase besit en veral in buffelboerdery spesialiseer. Barry het die eerste Volksmotors in Polokwane begin en vir 35 jaar die Toyota handelaarskap gehad. Hy was dikwels as die handelaar van die jaar aangewys en het vyf trofeë ontvang,” onthou Magda. “Hy het ook die eerste groot onderdelesaak en die eerste Hino vragmotors tak gehad.”

Gedurende die 1970’s was hy op die adviesraad van Toyota en het ook taxi’s vir die ZCC ingevoer.

Magda vertel hy het verskeie toekennings deur die jare ontvang. Hy is in 2001 genomineer en gekies as sakepersoonlikheid van die jaar.

Magda onthou dat Barry ‘n sagte plek vir skole gehad het, “hy het altyd ‘n oop hand vir skole gehad en gereeld donasies gegee. Hy sou enige een help wat hulp nodig gehad het. Hy het ook nooit nee vir ‘n antwoord aanvaar nie.”

Sy vertel dat hulle deel was van Trophy Breeders onder die Ammondalenaam en dikwels groot wildveilings gehou het. “Hy was al reeds ‘n paar jaar afgetree en het ‘n rustige lewe gelei. Sedert Januarie het dinge baie sleg begin gaan en is hy opgeneem in die Macadamia versorgingsoord. Kort voor sy dood het hy in ‘n koma verval.”

 

Sakeman en bekende inwoner Jannie Moolman, skryf so oor hoe Barry se vriende hom sal onthou:

Barry Streicher was ‘n seun van ons bosveld hier in die noorde en sy heengaan is vir my soos ‘n groot Kremetartboom wat in die veld omgeval het na vele jare. ‘n Mens kan nooit Barry se heengaan net laat verbygaan nie want hy was, net soos hierdie boom, ‘n besonderse individu. Iemand uniek, totaal anders as die gewone.
Barry het diep spore gelaat in die gemeenskap van Pietersburg (Polokwane). Hy was ‘n baie bekende en suksesvolle sakeman asook wild- en beesboer. As motorhandelaar het sy onderneming telkemale die toekenning as die top landswye Toyota handelaar verower. Hy het ook plaaslik suksesvol in eiendom belê en was in ‘n stadium mede-eienaar van die stad se enigste “wolkekrabber”, die Nedbankgebou. Hy het ook die toekenning as plaaslike sakeman van die jaar ontvang. Wat my oor die jare die meeste van hom beïndruk het was sy hoogstaande praktiese intellek. Hy was altyd bereid om sy vriende en vennote met raad te bedien en sy kennis van ‘n breë spektrum onderwerpe was uitsonderlik. Hy was ‘n mentor vir baie van ons wat jonger was. Barry was ‘n realis sonder fieterjasies en kon situasies baie vinnig ontleed en opsom. Hy was meestal vreesloos en jy het altyd geweet waar jy met hom staan. Mens kon altyd staatmaak daarop as Barry Streicher vir jou sy woord gegee het. Barry was ‘n leerling aan PHS en ‘n goeie rugbyspeler. Hy was lid van die plaaslike gholfklub asook kaptein, en vir jare verbonde aan die Pietersburg Klub, ook bestuurslid. Hy was ‘n avonturier, lief vir die natuur, jagter en diepseehengelaar. Hy het ook ‘n vlieënierslisensie gehad en het wyd gereis. Hy het ‘n vol lewe gehad, met baie ondernemingsgees en ‘n wye liefdevolle familie- en vriendekring.
Barry Streicher was die tipe mens wat nie weer in jou lewe sal verbykom nie. Hy was enig in sy soort. Sy naasbestaandes en vriende sal hom baie mis.
Barry, ons groet jou en eer jou nagedagtenis. Ons sal jou groot spore nog lank op baie plekke weer kry.
• ‘n Bymekaarkomgeleentheid sal môre (Woensdag) om 11:00 by die Pietersburg Klub gehou word.

Magda en Barry Streicher voor Barry siek geword het.
Magda en Barry Streicher voor Barry siek geword het.
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button